Danksy gunstige internasionale omstandighede kan Suid-Afrikaanse rosyntjieboere vanjaar vir die eerste keer in 'n lang tyd hul sakke groter voel bult.
Volgens mnr. Johannes Fourie, voorsitter van Droëvrugte TegnieseDienste (DTD) en 'n boer van Groblershoop, is die vraag en- aanbodsituasie op die oomblik in Suid-Afrika se guns. Die internasionale rosyneprys, wat die afgelope paar jaar al konstant is, het vanjaar reeds aansienlik geklim.
Thompson Pitloos-rosyne behaal nou tussen $1 500 en $1 600 per ton, Oranjerivier-rosyne (OR) kan tussen $1 820 en $1 950 per ton verdien en vir goue Sultanas is $2 200 tot $2 300 per ton nie vergesog nie ($1 = R6,60). Mnr. Dappie Smit, hoofbestuurder van DTD, waarsku dié pryse kan afplat ná Kersfees.
Die Turke verbou ook 'n ligkleurige produk (soortgelyk aan die OR wat geloog word) en is een van Suid-Afrika se vernaamste mededingers. Dié land het op die pas afgelope internasionale konferensie van rosynproduserende lande (IKR) in Keulen, Duitsland, aangekondig hy ontwikkel 'n promosieprogramomdie Russiese mark te betree.
In Turkye is produksie egter dié seisoen laer - die oorsaak daarvan kon nog nie verklaar word nie. Laer produksie is wêreldwyd (behalwe in Suid-Afrika) 'n neiging. Die Grieke se produksie is geknou deur die erge hittegolwe en brande wat hulle vanjaar beleef het. Dit het meegebring dat hulle vanjaar sowat 15 000 ton minder geoes het as verlede jaar.
In Australië gaan ook die rosyne-bedryf gebuk onder die ergste droogte in die land se geskiedenis. Die Amerikaners haal weer wingerde uit om plek te maak vir neutbome, veral amandels.
Iran, Turkye en Griekeland se kleiner oeste lei tot 'n afname in die aanbod van veral pitlose rosyne (teenoor die vorige jaar), is op die IKR vasgestel.
Die totale beskikbaarheid van Thompson Pitloos, Sultanas en goue Sultanas het met 11,7% afgeneem. Dié laer aanbod kom in 'n tyd waartydens meer rosyne verbruik word, sê Fourie.
Suid-Afrika is 'n vulletjie wat produksie betref. Plaaslik word sowat 40 000 ton tot 50 000 ton verbou. Dit is minder as 7% van die wêreldproduksie van 700 000 ton.
Thompson Pitloos, OR, goue Sultanas en korente word hier deur sowat 1 200 boere verbou. Hulle word meesal langs die Oranjerivier aangetref.
"Die gehalte is besonder goed. Dit word teen 40°C by 'n lae humiditeit geproduseer en derhalwe het ons nie eintlik probleme met siektes nie," sê Fourie.
Volgens hom verdien Suid-Afrikaanse boere 'n premie vir hul Sultanas, omdat dit van die beste ter wêreld is. Veral die goue Sultanas word beloon met pryse wat sowat 15% tot 20% hoër is as dié van hul mededingers van elders. Dit word nie kunsmatig gedroog nie, daarom is die vryvloeiendheid (dit is nie taai en klewerig nie) daarvan kenmerkend. Die kleurgehalte is danksy Suid-Afrikaanse klimaatstoestande puik.
Vanjaar se oesskatting lyk belowend. "DTD verwag die drag sal vanjaar gemiddeld 10% tot 20% bo die gemiddelde wees. Die oordrag-voorraad is egter baie laag en daarom sal 'n goeie oes ons goed te pas kom," sê Fourie.
Fourie sê nuwe aanplantings is nou dringend nodig in Suid-Afrika. Die bestaande aanplantings is al oud en ervaar produksieprobleme. Hy sal graag wil sien dat nuwe aanplantings elke jaar gemaak word.
DTD het nuwe moederblokke met Meirbein Pitloos ('n Australiese kultivar) sowel as 143B-onderstokke geplant sodat die regte plantmateriaal in die mark beskikbaar raak. Daar word ook ander nuwe kultivars geteel en ingevoer.
Meirbein Pitloos se produksie is heelwat hoër as bestaande kultivars, maar die produk lyk dieselfde.
"As dit gedroog is, sal bitter min mense die verskil kan agterkom,"sê Fourie. Suid-Afrika se vernaamste uitvoermarkte is in Europa. Die rosyne is veral gewild in Duitsland en Engeland. Fourie sê daar is ook 'n paar markte in die Ooste. Sowat 70% van die plaaslike rosyne, korente en sultanas word uitgevoer.
"Dit word meesal in los maat (aan die buiteland) verkoop, maar ons in Suid-Afrika voeg ons dikwels waarde toe met produkverbetering,"sê Fourie.
Rosyn-en-neut-mengsels, sjokolade-omhulde rosyne en natuurlik die reeks produkte wat op kinders gemik is, is veral gewild.
'n Voordeel van rosyne wat groot bemarkingswaarde het, is dat dit 'n besonder gesonde produk is. Op die IKR-konferensie (waar Fourie tot ondervoorsitter verkies is) het mnr. Sezman Alper van Turkye gesê sy land se bedryf gaan binnekort 'n promosieprogram bekendstel wat fokus op die gesondheidsvoordele van rosyne vir kinders.
"Die noodsaak om die voedingswaarde van rosyne te beklemtoon, was 'n herhalende boodskap tydens die konferensie met verskeie deelnemers wat melding gemaak het van navorsing om meer ondersteunende inligting te verskaf," sê Fourie.
"Die Europese wetgewers is gekant daarteen om vir kinders suikerprodukte te gee, veral nou met al die aandag wat aan vetsug geskenk word. Die suiker in rosyne (fruktose) is nie ongesond nie en rosyne kan daarom by 'n kospakkie ingesluit word."
Rosyne het 'n hoë energiewaarde en bevat baie yster en antioksidante.
Baie geld word tans aan navorsing bestee om te bewys rosyne is wel veilig en gesond vir kinders.
Plaaslik is daar planne om weer Suid-Afrikaanse Droëvrugte (SAD) se Cedric the Crow-veldtog, of iets soortgelyks, op die been te bring.
Op die konferensie, wat vanjaar vir die eerste keer deur Argentinië bygewoon is, is ook gepraat oor die moontlike inskakeling van die sultana-bedryf by die neutbedryf. 'n Afvaardiging sal ook die internasionale neuteraad se konferensie vir hierdie doel bywoon.
"Die neutbedryf is baie groot, en daar is moontlikhede vir samewerking tussen die rosyne en neutbedryf.
"As ons daar kan inskakel, kan ontwikkeling in die toekoms daarby baat vind."
Landbouweekblad, 7 Desember 2007