
Alhoewel uie in die Noord-Kaap se produksiestreek onder besproeiing verbou word, beleef die bedryf 'n baie droë somer wat bydra om 'n ui van goeie gehalte te produseer. Aangesien die kultivars deur die jare só verbeter het, is die opbrengste ook soveel beter, sê me. Leonie Haak, die streekkoördineerder van die Noord-Kaapse Uieprodusente-vereniging (NKUPV).
Van die belangrikste faktore wat die oes in die Noord-Kaap kan beïnvloed, is veral reën 'n groot probleem by uie wat reeds getrek is en nie in store geberg of ten minste droog geberg kan word op die land nie. Hoë humiditeit speel ook 'n baie groot rol indien die uie nie droog geberg word nie. Daar was dele in die verbouingsgebied wat swartryp gehad het wat die gehalte negatief beïnvloed het.
Huidige voorraad
Die huidige voorrade is byna dieselfde as in die 2012/13-seisoen toe bykans 30,8 miljoen sakkies uie van al die produksiestreke deur die varsproduktemarkte verkoop is. (Uitvoere en direkte verkope uitgesluit.)
Volgens Haak is voorrade op die markte nou baie laag en die onlangse reën het hier 'n groot rol gespeel. Die meeste uieprodusente in die Noord-Kaap werk hulle uie direk van die lande af, wat dit vir hulle onmoontlik maak om droë uie mark toe te stuur.
Gevolglik oorskry die vraag tans die aanbod, wat verseker dat produsente goeie pryse vir hul uie behaal, sê Haak.