Volgens amptelike syfers van die Sitruskwekersvereniging het Suid-Afrika vanjaar 161,6 miljoen kartonhouers sitrus uitgevoer – 18,6 miljoen meer as in 2020. Die wêreldwye verskepingskrisis is vererger deur probleme met produktiwiteit by Suid-Afrikaanse hawens, wat ’n groot impak op uitvoer gehad het.
Skeepsvaartmaatskappye het voorrang gegee aan die besige oos-wes-handelsroetes, met die gevolg dat dit by tye onmoontlik was om vrugte aan die Midde- en Verre Oosterse markte te lewer.
Tydens die hoogtepunt van die oestyd in Julie is probleme vererger deur die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng, toe die Durbanhawe vir dae aaneen gesluit was.