
Me. Andrea Freeborough, keldermeester by die Bergkelder in Stellenbosch, is Suid-Afrika se Vrouewynmaker van die Jaar vir haar 2009 Fleur du Cap Edel Laat-Oes.
Vanjaar se kompetisie - geborg deur Landbouweekblad - het 77 inskrywings van 32 vrouewynmakers regoor Suid-Afrika ontvang. Dit is ‘n groot toename in vergelyking met verlede jaar, toe 64 wyne van 28 wynmakers ontvang is.
Andrea, gebore en getoë in die Oos-Kaap, het as 14 jarige vir die eerste keer besef wynmaak is haar loopbaankeuse tydens ‘n vakansie op ‘n wynplaas in die Helderberg.
In 1996 het sy ‘n BSc-graad in Wingerd en Wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, waarna sy ‘n honneursgraad in wingerdbou en wynkunde voltooi het. Ná haar studies het Distell haar ‘n pos aangebied as assistant-wynmaker by Neethlingshof. Daarna het sy by die Nederburg-span as witwyn-wynmaker aangesluit.
Lief vir wynmaak
“Ek is baie lief vir wynmaak,” sê Andrea. “Elke oesjaar bring sy eie uitdagings en geleenthede. Ek geniet die feit dat daar nie baie voorspelbaarheid is in wynmaak nie. Jy werk met dit wat die natuur jou gee. My doelwit is om wyn te maak wat sosiale wynliefhebbers sowel as wynkenners sal geniet.”
Andrea het die beoordelaars oorreed met haar 2009 Fleur du Cap Edel Laat-Oes, ‘n wyn gemaak van 90% Chenin Blanc, 6% Semillon en 4% Weisser Riesling. Die wyn wat die tweede hoogste punt bereik het, is ook deur haar gemaak - ‘n 2009 ongefiltreerde Fleur du Cap Chardonnay.
Die kompetisie was hierdie jaar beoordeel in slegs een rondte, aangesien weggedoen is met die tweede been van die beoordeling wat bestaan het uit ‘n persoonlike onderhoud met die beoordelaars.
Volgens me. Marilyn Cooper, hoof van die Kaapse Wynakadamie en sameroeper van die beoordelaarspaneel, was hulle vanjaar in besonder baie beïndruk met die gehalte van die wyne.
Sy het ook opgemerk dat daar ‘n aanmerklike toename in die getal Cap Classique inskrywings was. “Dit is vir ons belangrik om vroue in die wynwêreld te erken en te beloon. Hierdie kompetisie is ‘n viering van nie net wêreldklas wyne nie, maar ook wêreldklas vrouewynmakers van Suid-Afrika.”
Die beoordelaarspaneel het bestaan uit Marilyn Cooper; Nstiki Biyela, verlede jaar se wenner en wynmaker van Stellekaya; Jo-Anne Mettler, wynbeoordelaar en skakelbeampte van L’Ormarins; Cathy Marston, ‘n Britse wynskrywer en Cathy van Zyl, ‘n Britse wynbeoordelaar.
Die Vrouewynmaker van die Jaar wen ‘n kontantprys van R25 000.
20 Julie 2010