
Kommer heers in die vrugtebedryf oor die impak wat die nuwe minimum lone vir plaaswerkers en uitsprake deur internasionale kopers oor beoogde versoeke vir sanksies teen die bedryf.
Tydens die geweldadige betogings wat tussen November verlede jaar en verlede maand plaasgevind het, het sommige van die internasionale kopers van plaaslike vrugte reeds ander lande gesoek wat vrugte kon verskaf as dit nodig sou wees.
Mnr. Charles Hughes, besturende direkteur van Tru-Cape Fruit-Marketing, het aan Sake24.com gesê die kopers het verskaffers in onder meer Argentinië, Chili en Nieu-Seeland gaan soek. Dié lande is van Suid-Afrika se grootste mededingers.
Tru-Cape is die grootste verskaffer van Suid-Afrikaanse appels en pere, en sowat 60% van sy vrugte word uitgevoer. Hughes sê die betogings het ’n minimale impak op hul bedrywighede gehad deurdat van hul werkers geïntimideer gevoel het en vir ’n paar dae nie kon werk nie. Dié verlore werkdae is al ingehaal.
Staat moet werklikheid verstaan
Volgens Hughes is dit van die uiterste belang dat die staat die werklikheid verstaan van wat die vrugtebedryf ten opsigte van arbeid kan bekostig om die volhoubaarheid van die bedryf op lang termyn te vir seker. Hy sê van die land se vrugteplase sal beslis nie die hoër lone kan hanteer nie, en sommige van hulle sal ondergaan, terwyl ander by groter boerderye ingesluit sal word.
“Suid-Afrika kan beslis nie die onverantwoordelike politieke retoriek van ’n beroep op sanksies teen die koop van Suid-Afrikaanse vrugte bekostig nie. ’n Verandering in die vraag na ons vrugte sal nie net ’n impak op boere en hul werkers hê nie, maar ook op al die verwante nywerhede, soos verpakking, vervoer en verskeping,” aldus Hughes.
Hughes sê ’n groot vraag na Suid-Afrikaanse appels bestaan “gelukkig” wêreldwyd vanweë die smaak van die appels en die feit dat die plaaslike seisoene verskil van die Noordelike Halfrond s’n.
2 Februarie 2013
Bron: Sake24.com