Die soet is baie meer as die suur vir die sagtevrugte-uitvoerseisoen
wat tans in volle swang is. Verskeie faktore
behoort boere tevrede te laat glimlag.
Hoewel die seisoen met stampe en
stote begin het, is die uitvoerpad
vir sagtevrugte vorentoe met
minder duwweltjies besaai, meen
verskeie kenners, boere en uitvoerders.
Suid-Afrikaners se gewoonte om meer
vrugte te eet, dra saam met die goeie wisselkoers
en lae internasionale volumes by
tot 'n blink toekoms vir Kaapse sagtevrugteboere.
Ten spyte van veranderende weerpatrone
lyk die gehalte van appels, pere en
ander steenvrugte in alle gebiede goed, sê
mnr. Gys du Toit van die Du Toit-groep in
die Koue Bokkeveld.
"Hier en daar is koue- en haelskade,
maar dit is baie klein."
Mnr. Michael Oosthuizen, 'n onafhanklike
steenvrugte-konsultant, sê appelkose
en vroeë pruimkultivars het egter erg deurgeloop
onder die swaar reën en vloedskade
einde November.
Sowat die helfte van die totale Pioneeroes
('n vroeë pruimkultivar) is verwoes
deur die reën wat in die begin van oestyd
uitgesak het. Dié vrugte kon glad nie gepak
word nie.
Volgens mnr. Jaco Smit, kommersiële
bestuurder van sagtevrugte by Capespan,
is die tafeldruif-oes weens die koeler groeiseisoen
tot 14 dae later as gewoonlik.
" Maar dit het tot gevolg dat goeie korrelgroottes
verwag word. In hierdie stadium
is die oes in die Bergrivier en Hexrivier
belowend en produsente sien uit na 'n bogemiddelde
oes."
Die latere rypwording van vrugte weens
die reën het produsente se kans om vroeg
in die mark te wees en 'n premie daarop te
verdien, in die wiele gery.
Mnr. Rian van Wyk, besturende direkteur
van die uitvoermaatskappy Colors,
sê egter die volumes wat hierdeur geraak
word, is redelik klein.
"Ons het 'n moeilike begin gehad en die
produkte het stadig van die boom gekom.
Baie van die vroeë kultivars is verlore, maar
dit is klein volumes. Dit is net die boere wat
vroeg lewer wat geraak is."
Hy is opgewonde oor die goeie eetgehalte
en hoë suikerinhoud van vanjaar se oes.
Volgens Smit voer Capespan vanjaar 18
miljoen kartonhouers vrugte uit. Meer as
die helfte hiervan is tafeldruiwe (9,5 miljoen),
6 miljoen daarvan is kernvrugte en
sowat 2 miljoen is steenvrugte.
"Die huidige wisselkoers is nadelig vir
produsente, maar diegene wat die beskikbare
finansiële meganismes gebruik, kan
hulle in 'n mate daarteen verskans. Daar is
egter ook 'n risiko aan verbonde aangesien
die betaling eers 6 tot 8 weke ná verpakking
plaasvind. Bewegings op die internasionale
geldmark kan moontlik 'n swakker rand tot
gevolg hê," het Smit gesê.
Du Toit meen egter die wisselkoers is in
Suid-Afrikaanse boere se guns. Die rand
het met die skryf hiervan teen sowat R9,82
teenoor die euro ('n styging van sowat 50c
teenoor verlede jaar) verhandel. Volgens die
wisselkoerswebblad Oanda se historiese
wisselkoerstabel het die rand teen gemiddeld
R9,32 teenoor die euro in Desember
verhandel.
"Die tweede rede is dat oorsese markte
se volumes nie vol is nie. Veral China ervaar
'n daling in produksie. Ek dink Europa se
oes is ook net gemiddeld tot ondergemiddeld.
In die Noordelike Halfrond sal ons
definitief tekorte eerder as oorskotte sien."
Du Toit sê uitvoer gaan ook vanjaar minder
wees, danksy die binnelandse verbruik
wat toeneem.
"Ons het programme met supermarkte
en dié programme toon 'n stygende neiging,"
sê hy.
Volgens Van Wyk het die internasionale
voorraad reeds verlede jaar begin daal.
Hy meen die koste en beskikbaarheid
van arbeid in die Noordelike Halfrond
speel 'n beperkende rol. " Daar is net nie
meer mense wat in die vrugtebedryf wil
werk nie."
Die derde rede vir die verminderde
voorrade is die groter middelklas wat
wêreldwyd geskep word, sê Van Wyk.
"Lande soos Indië en China groei met
8 % tot 10 % per jaar. Die middelklas ontwikkel
dus en daar is meer mense wat kan
vrugte koop. Dit beteken ook meer lande vir
Suid-Afrika om vrugte aan te verkoop."
Smit stem saam dat toegang tot die Chinese
mark nuwe geleenthede vir veral tafeldruiwe
kan inhou.
"Die streng fitosanitêre maatreëls, asook
die lang verskepingstyd moet in ag geneem
word tydens die beplanning vir hierdie
mark. Die mark is bereid om goeie pryse te
betaal, maar gehalte is ononderhandelbaar
- net soos in enige ander mark.
"Die onbekende markomgewing moet
ook oordeelkundig bestuur word, want
'n onverwagse toename in volumes kan
baie maklik die mark onder druk plaas.
Uitvoerders moet seker maak dat hulle geloofwaardige
ontvangers gebruik wat die
nodige infrastruktuur het om die produk te
kan hanteer," het hy gesê.
Volgens Smit is Argentinië
en Chili steeds Suid-
Afrika se grootste mededingers
op die Europese
mark. Die verswakking
van hul geldeenheid
teenoor die Amerikaanse
dollar kan tot gevolg hê
dat hulle meer vrugte - en vroeër - na die
mark stuur. Die uitstekende Suid-Afrikaanse
vrugte kan egter steeds 'n premie vir die
Suid-Afrikaanse produsent beteken."
Oosthuizen sê die pluat-kultivar Flavour
king ('n kruising tussen pruime en
appelkose) hou groot belofte in.
"Dit is die enigste steenvrug wat op sy
naam oorsee verkoop word. Daar hang
'n goeie oes aan die bome en die vrugte
behoort begin Januarie ryp te word. Dié
vrugte het 'n groot aanvraag vanweë die
eetgehalte."
Landbouweekblad, 4 Januarie 2008