Die "lig in die tonnel" skyn beslis heelwat skerper as 'n jaar gelede.
Oorlewing in die inmaakvrugtebedryf is moontlik, maar net vir diegene wat vinnig en doelgerig kan aanpas, sê mnr. Wiehahn Victor, hoofbestuurder van die Inmaakvrugte-produsentevereniging (IVP). Daar is egter 'n paar dinge wat gedoen moet word om vinnig genoeg te kan aanpas.
Victor het op die jaarvergadering van die IVP op Worcester gesê produksie per hektaar-eenheid is belangrik. Dit behels die omploeg van onwinsgewende boorde, die verhoging van produksie per hektaar en die verfyning van boordbestuur. Dit is ook belangrik om produksiekoste te verlaag.
Victor het gesê dit is aspekte waaroor die vrugteboer beheer het. Die boer is egter magteloos wat dinge soos die huidige vrugtepryse en die wisselings in die wisselkoers betref. Daar bestaan 'n wêreldwye neiging dat minder appelkose vir inmaak geproduseer word, terwyl die produksie van inmaakperskes en -pere styg.
In die 2005/'06-seisoen is 49,10 miljoen bokse perskes, 10,02 miljoen bokse pere en bykans 4 miljoen bokse appelkose wêreldwyd geproduseer. In die 2006/'07-seisoen is 44,70 miljoen bokse perskes, 11 miljoen bokse pere en net 2,75 miljoen bokse appelkose geproduseer.
Suid-Afrika is die land in die Suidelike Halfrond wat die meeste pere en appelkose vir inmaak produseer. Victor meen egter dat daar onder plaaslike kwekers "verbasend min opgewondenheid" oor appelkose bestaan, want die wêreldproduksie daal konstant die laaste jare en die kwessie behoort ondersoek te word.
Die vraag na perskepuree groei wêreldwyd sterk, sê hy. Die vraag het van 57 300 metrieke ton in die 2005/'06-seisoen gestyg tot 79 900 metrieke ton in die 2006/'07-seisoen. Die grootste produsent in die huidige seisoen is Chili met 46 000 metrieke ton, teenoor Suid-Afrika se 14 900 metrieke ton.
Victor het gesê wat wêreldneigings betref, raak China by die dag belangriker.
In die huidige seisoen is tussen 250 000 ton en 260 000 ton perskes vir inmaak in daardie land geproduseer, waarvan die helfte geeltaaipit-kultivars is. Meer as agt miljoen ton perskes en nektariens word jaarliks geproduseer. China stel ook sy visier al hoe meer op Amerika in vir uitvoer. Bykans 'n miljoen bokse ingemaakte vrugte is in die laaste seisoen van China na Amerika uitgevoer.
Amerika het in die vorige seisoen (2006) 'n redelike misoes van inmaakperskes gehad, maar verwag vanjaar 'n normale oes. Wat inmaakvrugte betref, speel Suid-Afrika feitlik geen rol in Amerika nie. Die Amerikaners ondervind ook al hoe meer arbeidsprobleme deurdat grensbeheer met Mexiko al hoe strenger toegepas word, terwyl hul minimum lone vir arbeiders ook styg.
Griekeland produseer gemiddeld tussen 13 miljoen en 14 miljoen bokse ingemaakte vrugte jaarliks, maar het glo planne om dit op te stoot tot 18 miljoen bokse per jaar. Hulle ondervind egter ook arbeidsprobleme. 'n Voordeel wat die Grieke het, is dat hulle naby aan Rusland is waar die mark vir perskepuree reusagtig groei.
Australië se inmaakbedryf gaan vinnig agteruit weens watertekorte en arbeidsprobleme, sê Victor. Suid-Afrikaanse inmaakprodukte word selfs deesdae op Australiese winkelrakke gesien.
Chili se inmaakbedryf groei sterk. Hy het handels- en uitvoerooreenkomste met verskeie lande in die Noordelike Halfrond gesluit. Die Chileense regering is sy inmaakvrugtebedryf goedgesind.
Dit is raadsaam dat die bedryf in Suid-Afrika kennis neem van die groei in daardie Suid-Amerikaanse land, meen hy.
Die aantal hektare onder vrugtebome wat vir inmaakdoeleindes in Suid-Afrika gevestig is, neem af. Die uitsondering is vroeë Bon Chretienpere.
Die aantal hektare waarop inmaakvrugtebome gevestig word, daal ook jaarliks drasties, sê Victor. In 2002 is ongeveer 92 ha onder Bulida-appelkose gevestig en in 2006 net 17 ha. Bon Chretienpere het van 5 ha gevestig in 2002 tot 3 ha in 2006 gedaal, vroeë Bon Chretienaanplantings van 88 ha in 2002 tot 6 ha in 2006 en taaipitperskes van 464 ha gevestig in 2002 tot 168 ha in 2006.
Die belangrikste taaipitperskekultivar is steeds Kakamas met 1 394 ha, maar Keisie haal hom in met reeds 1 338 ha. Daarna volg Oom Sarel met 1 082 ha, Prof. Neethling met 974 ha (en besig is om vinnig minder te word) en Sandvliet met 702 ha. Ander kultivars is Western Sun (496 ha), Fantacy (23 ha) en Supreme (168 ha).
Wat Bulida-appelkose betref, was die 2006/'07-oes 33 400 ton, waarvan 26 000 ton ingemaak en 7 400 ton verpulp en versap is. Van die 124 400 ton taaipitperske-oes vir dieselfde seisoen, is 101 000 ton ingemaak en 23 400 versap en verpulp. Van die 59 200 ton Bon Chretienpere is 54 200 ton ingemaak en 5 000 ton versap en verpulp.
Victor sê daar is "lig in die tonnel" vir die plaaslike inmaakvrugtebedryf. Vraag en aanbod is in balans - dermate dat daar selfs 'n ietwat groter vraag na perskes bestaan as wat die aanbod is. Chili moet net dopgehou word!
Pryse op markte is redelik goed, die wisselkoers is gunstiger vir uitvoer as 'n jaar gelede toe die rand heelwat sterker was, en daar is meer moontlikhede, soos die reusagtige, groeiende mark vir perskesap en -puree in Rusland.
Verwerkingsfabrieke het in die laaste jare gesukkel en twee (Ashton Canning en Langeberg) het saamgesmelt. Victor sê dit gaan in die algemeen beter met verwerkers, behalwe moontlik met Del Monte wat 'n opmerklik laer produsenteprys aan boere betaal.
Landbouweekblad, 17 Augustus 2007