Versigtig optimisties, is hoe mnr.
Trevor McKenzie, besturende
direkteur van die maatskappy
Eurafruit op Stellenbosch, oor die
Suid-Afrikaanse bloubessiemark voel.
"Die bedryf moenie produsentgedrewe
wees nie, maar eerder markgedrewe," het
hy op 'n simposium tydens die Bien Donné-
ekspo gesê.
In 2000 was die Rabbiteye-bloubessies
veral gewild in Suid-Afrika (lees die meegaande
berig "Drie tipes beskikbaar"). Ou
kultivars, soos Bonnita en Bluemax,wat net
mooi in die middel van die seisoen geoes
word, het die laagste pryse op die mark behaal.
Boonop was dit moeilik om die klein
vruggies op die varsmark te verkoop.
"Ons kyk na taamlik swak opbrengste,"
het McKenzie gesê.
In 2001 het Eurafruit met die Fall Creekkwekery
in Oregon, Amerika, begin sake
doen. Só kon nuwe kultivars hul weg na
Suid-Afrika vind. 'n Ooreenkoms oor 'n
teelprogram is ook beklink. "Die resultaat
was groter oeste en beter opbrengste. Dit
het ook die bloubessiebedryf van voor 2000
tot nou verander."
Teen die begin van die seisoen (week 38
tot week 41) is produksie tradisioneel laag
en pryse dus hoog. Teen November tel die
produksie op. Daarmee saam sak die pryse.
Inweke twee totvierverdienboeregewoonlik
die laagste prys vir hul bessies. Teen Fe-
bruarie en Maart begin die prys weer spoed
optel soos die produksie afneem.
"Ons mikpunt is natuurlik om die mark
in die begin en die einde van die seisoen te
bedien. Maar soos produksie wêreldwyd
toeneem, gaan die pryse daal en die produksie-
en pryskurwes afplat.
"In die toekoms sal produsente nie meer
R100 per kg kry nie. Argentinië en Chili mik
vir dieselfde markgleuwe as Suid-Afrika.
Argentinië kan in die begin van die seisoen
voorsien en Chili teen die einde. Ons kyk
dus na 'n produk wat in die toekoms baie
meer kommoditeit-geörienteerd sal raak.
Ons sal die veranderinge oor so vyf jaar begin
voel," sê McKenzie.
McKenzie was huiwerig omoor syfers te
praat, maar het 'n rowwe koste-uiteensetting
vir 'n bloubessieboerdery gemaak.
Die plante sal 'n boer sowat R50 000 per
hektaar uit die sak jaag, maar dit hang af
van die kultivars, die afstand tussen die
plante, waar die plantmateriaal vandaan
kom asook of daar enige tantième op die
plante betaal moet word.
Grondvoorbereiding kan van niks tot
R80 000 per eenheid kos. Bloubessies het
drie primêre grondvereistes: 'n Lae pH-waarde,
'n lae klei-inhoud en baie organiese
materiaal. Onthou, bloubessies is bosse
wat op woudvloere gedy.
Besproeiing kan 'n verdere R50 000 per
eenheid kos, na gelang van die grootte van
die bloubessie-eenheid.
Skadunette is ook belangrik en 'n bloubessieboer
moet bereid wees om bykans
R250 000 per eenheid daarvoor op te dok.
McKenzie sê bloubessieplante presteer beter
as dit in die skaduwee gekweek word,
veral in die harde Wes-Kaapse klimaat.
Laer produkpryse kan dit egter vir boere te
duur maak.
Om dié uitgawes te regverdig, moet die
inkomste voorwaar goed wees, maar ook
daaroor is McKenzie realisties. Hy sê 'n
goeie gemiddelde opbrengs is sowat 8 ton
bloubessies per hektaar. In die eerste week
van November verlede jaar het die bessies
teen R100 per kg verhandel,maar die week
daarna teen R75 per kg. Hy reken op lang
termyn is die gemiddelde prys ongeveer
R40 per kg.
Die pryse mag dalk belowend lyk, maar
die produksiekoste moet nog in gedagte
gehou word. Volgens McKenzie kos die
pluk en verpakking sowat R10 per kg en
die pakmateriaal 'n verdere R6 tot R10 per
kg. Dan is daar ook nog die koste van vervoer,
kunsmis en onkruidbestryding om
mee rekening te hou.
Wat bly dus oor? "Nie veel nie,maar darem hopelik
iets," sê hy.
"As jy my bel en sê jy dink daaraan om
bloubessies te plant, sal ek jou eers probeer
afraai.Dit is arbeidintensief en moeilik.Ons
kyk na 'n minimum van 10 hektaar om jou
oorhoofse koste te dek.
"Vandat jy besluit om te plant totdat jy
plant verloop sowat drie jaar as die invoer en
kwarantyntydperke in ag geneem word.
Jy bereik eers vier tot vyf jaar daarna volle
produksie," sê McKenzie.
Suid-Afrika produseer net sowat 0,5%
van die wêreld se bloubessies. "Die bekommernis
is dus nie of jou buurman nog 5 hektaar
bloubessies gaan plant nie, maar eerder
wat gaan gebeur as Argentinië se boere
besluit omnog 500 hektaar te plant."
Landbouweekblad, 8 Februarie 2008
BLOUBESSIES
Drie tipes beskikbaar
Laebos-bloubessies het baie koue-eenhede
nodig. Suid-Afrika se klimaat is te
warm vir dié bessies, wat veral in Kanada
en Rusland voorkom.
Hoëbos-bloubessies is in twee
groepe beskikbaar. Die noordelike hoëbosbloubessies
kom veral in die noordelike
state van Amerika voor. Dit het 'n taamlik
hoë kouevereiste (minstens 800 tot 1 200
koue-ure) en kan in spesi.eke dele van
Suid-Afrika, soos die Wes- en Oos-Kaap,
verbou word. Die bessies word van Desember
tot Maart ryp.
Die suidelike hoëbos-bloubessie benodig
minder koue ure en kom veral in die
suidelike Amerikaanse state, soos Florida,
Kalifornië en Georgia, voor. Die bessies
word van September tot Desember
ryp. Dit pas goed aan in die Wes-Kaapse
grond, veral as 'n vloerplant in die woude.
Rabbiteye-bloubessies benodig net
400 tot 800 koue-ure en word in Amerikaanse
state soos Georgia geproduseer.
Oestyd is Desember tot Maart. Die
Europese markte is weens die pitjies in die
vrugte nie meer so erg oor dié soort nie,
maar nuwe kultivars toon belofte en kan
vorentoe in Suid-Afrika geplant word.