
Die Wellington-wynroete gaan binnekort as distrik onafhanklikheid van die wyndistrik-afbakeningsraad ontvang.
Me. Trudy Oosthuizen, woordvoerder vir die wynroete, sê die proses is tans aan die gang. Dit is ’n groot stap in die wynbedryf. Wellington was tot dusver deel van die Paarl-distrik.
“Wellington is werklik gereed en in staat om sy wynspiere te wys om Wyne van Oorsprong, Wellington, te produseer,” lui ’n verklaring. Die wynroete is sowat 45 minute van Kaapstad geleë, en dit lê binne ’n radius van 30 minute van die Swartland en historiese dorpe, soos Franschhoek, Stellenbosch en die Paarl.
Kyk gerus hier na foto’s wat op die onlangse Absa Pinotage-mediatoer in Wellington geneem is.
“Wieg van wyn”
Die omgewing word ook as die “wieg van wyn” beskryf met sowat 95% van Suid-Afrika se wingerdkwekerye wat hier geleë is. Die Vallei van die Wa-makers of Val du Charron is bekend vir sy uitmuntende grondgehalte en voordelige klimaat.
“Dit sal regverdig wees om te sê dat alle plaaslike wyne wat toekennings verwerf, hul oorsprong na Wellington kan naspoor,” sê Oosthuizen.
Die wynroete, wat nou al vyf jaar lank bestaan, het 26 produsente en is ook bekend vir sy unieke buitelugatmosfeer. Dit is verlede jaar as die SA Top Buitelug Wyn-gebied gekroon. Die gebied se wyne het al verskeie Absa Pinotage-, Decanter-, Veritas- en Michelangelopryse gewen en is veral bekend vir sy Wynoes-fees wat jaarliks in Maart plaasvind.
Mnr. Schalk Burger, voormalige Springbok-rugbyspeler en die eienaar van die Welbedacht-wynlandgoed, sê dit is vir hom ’n eer om deel van dié wynroete en omgewing te wees.
Hy het lede van die media tydens die mediatoer op sy plaas tussen die wingerde ontvang. Kyk hier na ’n video van een van die staaltjies wat hy vertel het.
16 November 2011