Mnr. Matthew Addison, bestuurder van Hortgro se oesbeskermingsprogram, het op ’n inligtingsdag oor die stompkopkewer op Somerset-Wes ’n pleidooi gelewer vir ’n oplossingsgedrewe navorsingproses om ’n teenvoeter vir die kewer te vind. Hy het ook gevra dat inligting deur alle groeperings gedeel word om so gou as moontlik by die antwoord uit te kom.
Die bedryf het onlangs ’n stompkopkewer-werkgroep gestig wat onder meer sal kyk na die areawye monitering van stompkopkewers van Elgin tot Ceres, bestryding en voorkoming, verspreiding van die kewer, die vatbaarheid van die onderskeie vrugtetipes en die meganismes waarmee die kewer gashere uitsoek.
Hy het onder meer ’n opname voorgestel oor die potensiële ekonomiese invloed wat die kewer op die sagtevrugbedryf kan hê.