
Mnr. Danie Cronjé, ’n drankregkenner by die regsfirma Cluver Markotter Ingelyf op Stellenbosh, sê ’n wysiging op die Wet op Drankprodukte (artikel 60 van 1989) is op 8 Junie afgekondig.
Belanghebbendes kan vir 60 dae daarop kommentaar lewer. Cronjé was die genooide spreker op ’n vergadering van die Stellenbosse Landbouvereniging.
Ales is reeds geruime tyd ’n klip in die wynbedryf se skoen. Die georganiseerde wynbedryf (onder meer Wynkelders SA en VinPro) het al by meer as een geleentheid gevra dat dié drankies verbied word. Die mark vir ales beloop glo sowat 100 miljoen liter – twee keer meer as wat die papsakbedryf op sy hoogtepunt was. Die onwettige brousels kos sowat R5 per liter.
Beperkings ingestel
Cronjé sê die wysiging bevat ’n definisie vir “ander gefermenteerde drankies”. Dit sal dus voorskryf hoe die drankies gemaak moet word en watter byvoegings toelaatbaar is. Die drankies sal ook net 6% alkohol mag bevat (tans is daar van die suikergefermenteerde drankies wat ’n alkoholinhoud van 11% tot 14% het).
Die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye sal ook bepaal wat die maksimum en minimum grootte van die houers waarin dit verpak word, mag wees. Na verwagting sal 5 liter-plastiekkanne beperk word.
“Ek dink dit is goed. Daar is duidelik ’n behoefte om die produk te reguleer. Dit het die mark van wynboere weggeneem en word in ’n groot mate vir drankmisbruik verantwoordelik gehou,” het Cronjé gesê.
Die wetgewing bevat ook vir die eerste keer ’n definisie vir bier. Dit beteken die departement van landbou kan nou ook toetse vir voedselveiligheid daarop uitvoer.