
BFAP het in Maart vanjaar vraag-en-aanbodmodelle gebruik om ’n vooruitskouing vir die plaaslike bloubessiebedryf vir 2022 tot 2031 te maak. Eksterne faktore, soos inflasiekoerse, is ook in ag geneem.
Mnr. Louw Pienaar, ’n senior ontleder by BFAP en spreker op BerriesZA se tegniese simposium wat verlede week by Allée Bleue buite Franschhoek aangebied is, het gesê hoë inflasiekoerse het ’n impak op bloubessieverbruikers wêreldwyd en ook verbruikers van Suid-Afrikaanse bloubessies.
Amerika is die grootste verbruiker van bloubessies (30%), gevolg deur China (27%), die Europese Unie (22%) en Brittanje (4%). Pienaar het gesê hoewel verskeie ekonome glo dat Amerikaanse huishoudings se bankstate stabiel is en daar dus geld uit daardie mark te maak is, neem China se bloubessieproduksie toe en pas hulle tans streng inperkingsmaatreëls toe om die verspreiding van covid-19 te bekamp.
Pienaar het gesê hul vooruitskouing is saamgestel voordat Rusland in Februarie Oekraïne ingeval het en plaaslike rentekoerse opwaarts aangepas is. Die monetêre beleidskomitee sal na verwagting plaaslike rentekoerse in die toekoms weer opwaarts aanpas. Dit sal verdere druk op die bedryf plaas – veral as die oorlog voortsleep en die prys van Brent-ruolie verder styg.
BFAP voorspel dat bloubessiepryse wêreldwyd sal daal, maar dat ’n toename in verbruik op mediumtermyn pryse sal steun. Wêreldwyd sal daar na verwagting 3,1 miljoen ton bloubessies in 2031 geproduseer word, met 7% jaarlikse groei.
Wat plaaslike bloubessieproduksie betref, sal Suid-Afrika in 2031 volgens BFAP 89 000 ton bloubessies produseer met opbrengste wat teen ’n stadiger tempo sal groei. ’n Geskatte 8 172 ha bloubessies sal verwagting teen 2031 aangeplant wees. Daar sal in 2022, 2023 en 2024 na verwagting onderskeidelik 32 864 ton, 39 083 ton en 44 775 ton bloubessies plaaslik geproduseer en onderskeidelik 24 618 ton, 30 208 ton en 35 301 ton uitgevoer word.
Pienaar het gesê sterk groei in vraag sal op die plaaslike mark voortduur, maar dat dit afhang van ontwikkelinge in Peru, een van die plaaslike bedryf se grootste mededingers. “Die prentjie kan baie erger lyk as wat dit tans lyk, maar pleks van pryse kan koste-inflasie die grootste impak op bloubessieprodusente hê.”
* Nog 'n artikel oor BFAP se verslag sal op 'n latere stadium gepubliseer word.