
Sondebelasting op wyn het sedert 2003 van R0,89 per liter tot R2,32 per liter gestyg, wat ’n regstreekse impak op wynplase se winsgewendheid het.
Boere se uitbetaling word met sowat R1 100 per ton geraak. Die wynbedryf hou tans asem op vir die aankondiging van aksyns tydens die begrotingsrede op 22 Februarie. Kort daarna sal die Regering ook die nuwe mikpunte vir die alkoholbelastingbeleid bekend maak.
Tans is die mikpunte 23% vir wyn, 33% vir bier en 43% vir spiritualieë. Mnr. Paiter Botha, finansiële bestuurder van VinPro, het op ’n media-ontbyt voorspel die Regering sal nie die mikpunt van 23% vir wyn verander nie.
“Dit sal onverantwoordelik wees om dit te verhoog.” Hy sê ’n primêre produsent verdien sowat R2,55 van ’n bottel wyn wat teen R27 deur die supermark verkoop word. Die boer se aandeel in die verbruikersprys is dus minder as 10%.
38 sent
“As die produksiekoste in ag geneem word, bly daar net 38 sent vir die boer oor om sy lewensuitgawes te dek en sy rente op plaaskapitaal te delg,” het Botha gesê. Om die bedryf se volhoubaarheid te verseker, behoort die boer minstens R1,33 wins in sy sak te steek.
Die Regering verdien egter R5 uit dieselfde bottel wyn danksy sondebelasting en BTW. “Die Regering verdien sedert 2005 meer uit die wynbedryf as wat die boere self verdien. Die staat se inkomste daaruit is sowat R3,9 miljard, terwyl die wynboere sowat R3,6 miljard verdien.”
Botha het die belangrikheid van die bedryf in die ekonomie beklemtoon. Dit is die naasgrootste uitvoerder van landbouprodukte en die bydrae tot die bruto binnelandse produk is meer as R26 miljard. Meer as 279 000 mense werk in die bedryf.
18 Februarie 2012