Herhaalde verbiedinge op die handel van drank, vertragings en stilstande by hawens, ’n flou plaaslike vraag asook ’n groot oordragvoorraad, terwyl die volgende bogemiddelde oes reeds in die wingerd hang.
Dít is maar net sommige van die kwessies wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf sedert die begin van die covid-19-pandemie die hoof moes bied – en die einde van die pandemie is nog nie in sig nie. Ondanks ál dié struikelblokke tel die bedryf stadig kop op en probeer hy homself uit die verknorsing kry.
Mnr. Rico Basson, bestuurshoof van Vinpro, sê ondanks die terugslae wat covid-19 oor die afgelope twee jaar meegebring het, is die wyn- en brandewynbedryf oorgehaal om in 2022 nie net terug te keer na waar dit voor die pandemie was nie, maar vorentoe te beweeg en sy visie van ’n sterk, aanpasbare en mededingende bedryf te verwesenlik.