
Consol Glass is in April vanjaar deur die Luxemburgse verpakkingsvervaardiger Ardagh Group vir R1 miljard gekoop. Die uitbreidingsprojek, wat 150 regstreekse werksgeleenthede geskep het, verdubbel produksiekapasiteit danksy ’n nuwe smeltoond en produksielyne. Dit verseker ook krag- en waterdoeltreffendheid, en omgewingsvoordele.
Volgens mnr. Paul Curnow, uitvoerende hoof van Ardagh Glass Packaging South Africa, is dit ’n belangrike stap om die produksie van glas koolstofvry te maak en koolstofvrystellings te verminder.
Curnow sê die uitbreidingsprojek sal hulle in staat stel om die wynbedryf beter te bedien danksy verbeterde kapasiteit om jaarlikse voorraadvlakke aan te vul, wat op sy beurt markgroei sal steun.
“Ons is trots op hierdie noemenswaardige belegging in kapasiteit wat sterk vraag na volhoubare, premiegehalte-glasverpakking steun. Die feit dat hierdie projek betyds en binne die begroting voltooi is ten spyte van covid-19 en probleme in die voorsieningsketting in die afgelope twee jaar, is ’n reuseprestasie vir tegniese en bedryfspanne.”
Hoewel die groter produksiekapasiteit in Gauteng is, meen Curnow dit sal steeds die Wes-Kaapse wynbedryf bevoordeel, aangesien ander markte se glas uit die noorde van Suid-Afrika verskaf kan word. Dit beteken dat meer glas vir die wynbedryf beskikbaar gestel sal word.
Mnr. Christo Conradie, bestuurder van wynkelders by Vinpro, sê die produksieskuif na die Nigel-aanleg is ’n geleidelike een. Daarom sal dit volgens hom tyd neem voor die wynbedryf baat vind by die uitbreidingsprojek.
“Vinpro is egter hoopvol dat die beskikbaarheid van glas uiteindelik sal normaliseer en ons is dankbaar vir die verligting in die tussentyd. Vinpro bly in gesprek met Ardagh Glass Packaging en hy is bewus van die bedryf se vooruitskattings ten opsigte van glasbehoeftes. Dit bly egter ’n moeilike situasie gegewe al die uitvoerprobleme.”