
Die wynbedryf het ’n meesterplan nodig om te herstel nadat altesaam 200 handelsdae weens covid-19-beperkings weggeneem is.
“Daarsonder en sonder sosiale dialoog kan dit baie langer duur vir die bedryf om kop op te tel en kan daar reperkussies wees waar ons dit die minste verwag. Sonder druiwe, wingerde en volhoubare boere is daar nie wyn en markte nie,” het mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, tydens dié liggaam se inligtingsdag naby Franschhoek gesê.
Hy is bekommerd dat plaasinflasie vanjaar sowat 15% kan beloop.
“Dit gaan ’n baie duur jaar wees weens Eskom en minimum lone, terwyl pryse net met 3-5% gaan klim. Daar is besluite nodig op die herstelpad, onder meer oor aksynsbelasting, want daardie 10% skep druk op plaasvlak.”
Me. Nicky Weimar, senior ekonoom van Nedbank, het gemaan dat die ekonomie eers teen volgende jaar op dieselfde vlakke as voor die pandemie gaan wees.
“Wynboere moet hulle gereed maak om met ’n wisselvallige geldeenheid te werk wat beplanning gaan bemoeilik. Hoër oliepryse sal insetkoste voed, probleme aan aanbodkant sal voortgaan en die rentekoers gaan aggressief verhoog moet word.”
Silwer randjie
Ten spyte hiervan het die bedryf die afgelope paar maande heelwat buitelandse beleggings gelok, met minstens vier transaksies waarvan Basson kennis dra. Sommige wynboere vestig ook nuwe wingerde aangesien hulle tekorte voorsien.
“Ons kon uitvoervolumes met 25% laat groei onder moeilike omstandighede,” het Basson gesê. “Ons kon diversifiseer na markte in Amerika, Afrika en China. Dis deels omdat ander lande nie wyn kon lewer nie, maar dis fantasties dat 20% van ons uitvoer nou na die nuwewêreldlande is. Plaaslik het die bedryf voordeel getrek uit die neigings na tuisverbruik en e-handel. Ons is nog nie waar ons wil wees nie, maar dit was ’n billike jaar waarop ons moet voortbou.”
Volgens hom het wynkelders verantwoordelik omgegaan met die sowat 200 miljoen liter ongekontrakteerde wyn wat ’n jaar gelede in kelders gelê het. Dit was van die hoogste voorraadvlakke in die bedryf se geskiedenis. Deur verhandeling en die produksie van konsentraat het dié syfer afgekom tot 50 miljoen tot 60 miljoen liter.