
Die grootte van volgende jaar se wyndruifoes lyk sowat 7% beter as verlede jaar se katastrofiese oes, maar dit gaan nie die rekordboeke herskryf nie.
Volgens die Suid-Afrikaanse Wynbedryfs- en inligtingstelsels (Sawis) se jongste inligting word volgende jaar se druifoes op 1 351 993 ton geskat. Dit is heelwat beter as 2010 se oes - wat veral deur windskade en donsskimmel geknou is – maar nog 5% kort van 2008 se rekordoes.
Die wynoes (dit sluit sap, konsentraat, wyn vir brandewyn en distilleerwyn in) sal na verwagting 1 043,7 miljoen liter beloop.
Me. Yvette van der Merwe, uitvoerende bestuurder van Sawis, sê al die produksiestreke toon ‘n toename van tussen 4% en 18% in volume. Die Oranjerivier is die enigste uitsondering en daar word ‘n daling van 9% verwag.
“Die redes vir dié goeie oesverwagtinge word hoofsaaklik aan die ligter oeste van 2010, goeie na-oes herfsperiode vanjaar met goeie reserwevlakke in die stokke, die goeie winterkoue en gevolglike goeie uitbotpersentasie toegeskryf,” sê Van der Merwe.
“ ‘n ‘Sagte klimaat’ wat tot op hede ondervind is het tot baie goeie groeitoestande aanleiding gegee en wingerde is baie gesond. Geen swamsiektes of ernstige plae word waargeneem nie.”
Meer rooskleurig
Mnr. Danie Steytler jr. van Kaapzicht-landgoed in Stellenbosch se Bottelary-wyk sê sake lyk vanjaar baie meer rooskleurig en hul geskatte oesvolume is bogemiddeld.
“In Stellenbosch soek ons gemiddelde opbrengste van 5 ton tot 7 ton per ha, maar ek dink hier is op die oomblik blokke met tussen 8 ton en 9 ton per ha.”
Hoewel dit nog te vroeg in die wedstryd is om werklik uitsprake oor gehalte te maak, sê Steytler hul druiwe is gesond. Die bietjie reën wat wel uitgesak het, is deur droër, winderige tydperk opgevolg. Daar is dus nie veel siektes in die wingerd nie.
Dit beteken egter nie dit is afdraande vir produsente tot daar vroeg aanstaande jaar ge-oes word nie. Van der Merwe sê wisselende weerstoestande tydens die blomperiode het vir ongelyke vrugset en losser trosse gesorg (veral by die latere kultivars). Die uitwerking hiervan sal eers later in die seisoen gesien word.
Steytler sê daar is aanduidings dat die res van die somer – veral Januarie en Februarie – baie warm en droog sal wees. “As dit droog en warm is, sal ons aan die oes moet sny en eerder die stokke moet help om ‘n kleiner oes beter ryp te maak.”
Meer oor wyn in 2010:
Wynuitvoer kan met 10% styg (21 Januarie)
Wynbedryf gee werk aan duisende (16 Februarie)
Druiwe-oes neem af (25 Februarie)
Oesverliese kan tot wyntekort lei (23 April)
Minder wingerd vir wyn geplant (6 Mei)
Wynboere ‘by vurk in pad’ (26 Augustus)
Verandering ‘nodig’ in wynbedryf (30 November)
Stellenbosch-wyne onder druk (6 Desember)
9 Desember 2010