
Wynboere in Suid-Afrika gaan gebuk onder stygende produksiekoste en verkeer nou onder soveel druk dat dié bedryf op die lang duur nie meer volhoubaar sal wees nie, luidens ’n verslag van VinPro en Winetech.
Die verslag meld dat die gemiddelde produksiekoste van wyn oor die afgelope vyf jaar met 24% tot R23 578/ha gestyg het. Verlede jaar was die netto inkomste R5 901 per hektaar. “Ondanks die hoë produksiekoste word nóg ’n styging van 20% vir die 2009-oesjaar verwag.”
Hoër pryse vir kunsmis, brandstof, elektrisiteit en insekdoders bring dié verhoging mee. Kontantuitgawes in die wynbedryf het ook oor die afgelope vyf jaar met 17% gestyg. “Laer druiwe- en wynpryse, asook hoë produksiekoste, het ’n inkomsteprobleem vir talle wynboere geskep,” lui die verslag.
Wynprodusente se skuld het gestyg en ou of nie-winsgewende wingerde kan nie vervang word nie. Die voortbestaan van veral kleiner wingerdaanplantings is ook in gedrang. Goeie nuus is dat daar tekens van stygende wynpryse is, ’n rooiwyn-oorskot is uitgewis en uitvoer neem toe.
Bron:
16 Julie 2009