
Luidens ‘n verklaring is dié seël ’n eerste in die wêreld onder wynproduserende lande. Die seël, wat ‘n inisiatief vir regverdige arbeid is, sal bewys dat die wyn met redelike werkspraktyke, wat gereeld en streng beoordeel word, geproduseer is.
“Die departement ondersteun hierdie baie belangrike ontwikkeling in die wynbedryf wat landgoedere en plase wat etiese arbeidspraktyke navolg, sal erken,” lui die verklaring. Die departement is van mening dat die inisiatief die uitbuiting van menseregte oor die langtermyn sal aanspreek.
Later in 2012 beskikbaar
Na verwagting sal die seëls later die jaar beskikbaar wees. Dit sal deur die wynbedryf se etiesehandel-vereniging (Wieta) toegeken word. Dit is gebaseer op die volhoubaarheidseël wat vroeër bekend gestel is om die integriteit van die produksieproses van ‘n wyn te waarborg.
Wieta se kode van praktyk is op internasionale arbeidstandaarde en Suid-Afrika se arbeidswetgewing gebaseer. Van die vereistes waaraan voldoen sal moet word is die bestaan van gesonde en veilige werksomstandighede, behoorlike vergoeding en beskerming teen diskriminasie.
Die inisiatief sal in drie fases uitgevoer word. Die eerste fase sal opleiding vir werkers, eienaars en bestuurders oor arbeidspraktyke en Wieta-bepalings wees.