
Die voorraadvlakke in wynkelders was verlede jaar op ’n rekordhoogtepunt. In Desember verlede jaar was daar ’n oorskot van 200 miljoen liter wyn in Suid-Afrika. Die voorraadvlak was laas aan die einde van 2019 in balans nadat die droogte ’n invloed op produksie gehad het.
Die hoë voorraadvlak is weens sowat 160 miljoen liter méér wyn wat geproduseer as tydens die droogtejare. Tydens die covid-19-grendelstaat is die bedryf ook vir sowat 23 weke nie toegelaat om wyn plaaslik te verkoop nie en hy kon vir vyf weke nie uitvoer nie.
Me. Yvette van der Merwe, uitvoerende hoof van Sawis, het tydens ’n media-inligtingsdag op Stellenbosch gesê die wynbedryf probeer om die voorraad op ’n verantwoordelike manier te verlaag.
“Ons het meer van die produk aan die nie-alkoholiese segment toegewys en meer wyn vir industriële doeleindes (asyn, voedselprodukte en skemerkelkies) uitgevoer. Altesaam 30 miljoen liter is vir daardie segment toegewys.”
Volgens mnr. Rico Basson, uitvoerende direkteur van Vinpro, was dit ’n groot bekommernis dat wynboere hul produk sou begin stort om daarvan ontslae te raak.
“Ons is baie verlig dat dit nie gebeur het nie.”
Voorraad kan krimp, maar daar is probleme
Van der Merwe skat die ooraanbodsituasie kan dermate verbeter dat daar 80 miljoen tot 130 miljoen liter wyn minder voorraad in kelders is aan die einde van die huidige jaar.
“Dit hang grootliks af van verbruikers se bestedingskrag, die grootte van die Noordelike Halfrond se druiwe-oes en of daar geleenthede vir ons gaan wees, die invloed van die krisis in die verskaffingsketting, die oorlog in Oekraïne, of ons nuwe covid-19-stamme gaan sien en die stygende energieprys. Daar is dus meer probleme as in ’n gewone jaar en dit sal bepaal met hoeveel wyn ons aan die einde van die jaar gaan sit.”
Sy sê die wêreldwye produksie is sowat 300 miljoen liter minder, maar wynverbruik het verlede jaar met 200 miljoen liter herstel ná ’n groot afname die vorige jaar.
“Dit skep geleenthede vir ons, maar die situasie lyk steeds onseker gegewe al die probleme wat ons in die gesig staar. Daarom skat ons dat die bedryf eers teen 2024 sal stabiliseer vanuit ’n vraag-en-aanbod- en voorraad-oogpunt.”
Sy sê as die Noordelike Halfrond weer vanjaar ’n kleiner oes het, is daar ’n goeie kans vir die Suid-Afrikaanse bedryf om sy oorskot teen 2023 weg te werk.
Regte produk vir die mark
“Ek dink daar is nog baie geleenthede vir die bedryf, maar produsente moet hul kultivarmengsel reg kry (om aan verbruikersbehoeftes te voldoen). Dis ongelooflik om te sien hoe veerkragtig ons bedryf is en produsente het nog altyd geweet hoe om met die oorskot te werk.”
Me. Siobhan Thompson, uitvoerende hoof van Wosa, sê veral Cap Classique, Sauvignon blanc, rosé en ligter rooiwyne is gesog oorsee.
Volgens Van der Merwe was daar vanjaar weer ’n sterk vraag na bokswyn, wat met sowat 20% gegroei het teenoor 2019 en 2020.
“Bokswynverkope maak nou meer as die helfte van ons plaaslike verkope uit. Die aandrywers hiervan was die tekort aan bottels op die plaaslike mark, die geskiktheid van die verpakking vir verbruikers om tydens die grendelstaat in groter formaat wyn te koop om tuis te geniet en die feit dat dit goeie waarde vir geld bied. Meer premie-handelsmerke is ook nou in bokse beskikbaar, en daar is meer aanvaarding van die formaat vir gehaltewyn.”