Hy het koponderstebo by die tafel gesit, sy oë toe en sy hande inmekaar gekruis. Soos die name van die vyf ander finaliste in Agri Wes-Kaap en Sanlam Landbou se Jongboer van die Jaar-kompetisie op ’n gala-aand in Kaapstad een vir een afgelees en vir hul bydrae tot die landbou erken is, het mnr. Ian Cunningham sy kop liggies geskud elke keer wanneer hy nie sy naam hoor nie.
Daar is nie ’n manier dat hy gaan wen nie, het hy gedink. Maar toe het sy vrou, Inge, langs hom opgespring, en nog mense het gestaan en hande geklap. Tóé het dit ingesink dat hy aangewys is as Wes-Kaapse Jongboer van die Jaar vir 2022.
“Ek was oorweldig met soveel emosie,” onthou die 37-jarige Cunningham. “Ek het net daar my kop weer gesak en vir God dankie gesê.”