
Kommersiële, blanke boere en ander grondeienaars het die keuse om grondhervorming as ’n uitdaging of ’n bedreiging te beskou, met uiteenlopende gevolge, afhangende van watter keuse genaak word.
Mnr. Ryno van der Merwe, vorige voorsitter van die Namibiese Landbou-unie (NLU), het op die Vleisbeesskool wat deur Breedplan, Landbouweekblad en die Lewendehawe-registrerende Federasie (LRF) by Aldam aangebied is, gesê die regerings van Suid-Afrika en Namibië se doelwitte is albei om welvaart te herverdeel en die verlede deur onder meer grondhervorming reg te stel. Dit gaan egter nie noodwendig oor reg of verkeerd nie, maar oor politieke emosies en sentimente wat moeilik is om te verstaan.
Boere kan niks daaraan doen nie. Hulle kan dit egter as ’n uitdaging beskou en die realiteite aanvaar, met gepaardgaande aksies. “As ons dit egter as ’n bedreiging beskou, kan ons die realiteite ignoreer, ander mense blameer, verandering teenstaan en waarskynlik in die hof beland,” het hy gesê.
Die Namibiese blanke, kommersiële boere het besef hulle is nie meer in die beskermde posisie van voorheen nie en dat die spelreëls verander het. Hulle het besluit om hul aan te pas, toegang tot die beleidmakers te verkry en onderhandelings aan te knoop ten einde die besluitmakers te probeer beïnvloed vir ’n beter toekoms vir die hele landbougemeenskap, eerder as om konfrontasie te soek.