
Die Veeskool vind van 12 tot 14 Oktober by die Allemanskraal-vakansieoord by Ventersburg plaas en word onder aanvoering van die Lewendehawe-registrerende Federasie gehou. Die tema is “Bou ’n winsgewende koeikudde”.
Die program is vanjaar aangepas sodat die eerste dag op die basiese aspekte van veeboerdery konsentreer, terwyl die tweede en derde dag meer gevorderde inligting sal oordra.
Reg aan die begin sal die vordering van beginner- na kommersiële boerdery bespreek word. Prof. Norman Maiwashe, hoofbestuurder van die LNR-diereproduksie, sal oor die regering se rol in die migrasie van opkomende boere na kommersiële boere praat, terwyl mnr. Cois Harman, eienaar van Agri Start, ’n besigheid wat hom op boer-ontwikkeling toespits, die private sektor se rol sal verduidelik.
Die belangrikheid van siektebekamping om ’n winsgewende kudde te handhaaf en marktoegang te verseker, sal deur dr. Danie Odendaal, stigter en direkteur van die Veeartsnetwerk (V-Net), bespreek word.
Mnr. Willie Clack, voorsitter van LITS-SA, sal oor die voorgenome nasionale naspeurbaarheidstelsel vir Suid-Afrika gesels.
Dit word gevolg deur die bespreking van veldbestuur vir kommunale en kleinboere, deur mnr. Colin Knott, ’n Namibiese raadgewer oor herlewingslandbou, en voedingsbestuur in koeikuddes vir verhoogde produksie en reproduksie deur mnr. Johan Mouton, tegniese bestuurder vir navorsing en ontwikkeling vir herkouers van die dierevoedingsmaatskappy Molatek. Mnr. Charles Matthewson, hoof van beesverkryging by Sparta-voerkraal, sal die boere vertel waarna voerkrale in speenkalwers soek.
Praktiese sessies
Daarna volg praktiese opleidingsessies oor:
- Rumenfunksie, mis en kuddegesondheid (mnr. Gerry Weber, uitvoerende hoof van Rumenpro);
- Veehanteringstoerusting (mnr. Greg Talbot, besturende direkteur van Tal-Tec);
- Laestreshantering (mnr. Leon Kruger, departement dierkunde, Universiteit van die Vrystaat);
- Brandmerk, onthoorning en merk van diere (mnr. Johan Barnard, plaasbestuurder van die Universiteit van die Vrystaat, me. Milanie Nel, besigheidstrategiebestuurder vir identifikasie van Allflex, en mnr. Christo Brink, tegniese en naverkoopdiensbestuurder van Allflex);
- Inenting en dosering (dr. Schabort Froneman, tegniese bestuurder vir herkouers van Zoetis);
- Basiese beginsels van bul- en koeiseleksie (mnr. Llewellyn Angus, interrasbeoordelaar en voormalige Suider-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar, en mnr. Wayne Porter, interrasbeoordelaar en voorsitter van die Brahman-telersgenootskap van Suid-Afrika);
- en akkurate identifikasie en gebruik van data-ontleding as bestuursgereedskap vir kuddes (me. Hannelet Jordaan, data-ontleder van BKB).
Die tweede en derde dag konsentreer op meer gevorderde inligting vir veeboerdery. Lees meer daaroor in ’n volgende uitgawe.
Kostestruktuur
Boere kan kies om een, twee of drie dae by te woon. Die pryse is: Volle registrasie wat drie nagte verblyf, drie etes per dag en al die lesings insluit: R6 900 in huisies of R5 900 vir kampering; nuwe boere (dag 1): R2 500 wat een nag in ’n huisie insluit, of R2 100 vir kampering; Dag 2 en 3: R5 000 in huisies of R4 200 vir kampering; dagtarief sonder verblyf: R1 800. Spesiale tariewe kan vir groepe van tien of meer mense gereël word.
Navrae
en besprekings: Charmainé Alberts, 082 922 3747, palberts@telkomsa.net