
Die vader van die LRF-Veeskool was dr. Michael Bradfield, hoof van Breedplan in Suider-Afrika, wat die geleentheid altyd gereël het. Hy is in Januarie aan kanker oorlede en die Veeskool vind vanjaar die eerste keer sonder hom plaas.
Bradfield het die byeenkoms begin om ’n gaping in veeboere se kennis te vul, veral kommersiële en beginnerboere se begrip van moderne bestuursbeginsels en -metodes, om hulle in staat te stel om meer geld te maak.
Prof. Frikkie Neser, hoof van veekunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), vertel die grondslag is reeds sowat 20 jaar gelede gelê op ’n vergadering tussen hom, Bradfield en prof. Gert Erasmus, destyds hoogleraar in diereteelt aan die UV, in laasgenoemde se kantoor.
Daar het hulle die geleentheid begin beplan om presteerders in die veebedryf te vereer. Dit het gelei tot ’n byeenkoms in 2003 in Bloemfontein waar mnr. Brian Angus van Arlington as die eerste Landbouweekblad-Breedplader-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar aangewys is.
Neser het die beoordeling van die begin af gedoen en behartig steeds hierdie taak, en Landbouweekblad is steeds die mediaborg. Later is die Veeskool na die Allemanskraaldam naby Ventersburg verskuif.
Die naam is mettertyd verander na die LRF-Veeskool (met verwysing na die Lewendehawe-registrerende Federasie) om wyer as net beesboerdery te strek. Vandag voldoen die LRF-Veeskool steeds aan sy strewe om die veebedryf in alle aspekte van die vleiswaardeketting te onderrig.
Elke jaar het ’n bepaalde tema, met inligting wat deur plaaslike en internasionale kundiges oorgedra word.
“Lesings word met praktiese aanbiedinge aangevul.”
Boere moet wins toon
Die hoofdoel van enige boerdery is om wins te toon. Daar is egter talle faktore wat ’n invloed op winsmarge het. Telers moet dus kennis van soveel verskillende aspekte moontlik hê, waaronder teelmateriaal, genomika, veevoeding, weidingsbestuur, dieregesondheid, finansiële bestuur, bemarking en weerkunde.
Dit is van die onderwerpe wat jaarlikse op die Veeskool bespreek word om deelnemers blootstelling aan die jongste inligting oor diereteling te gee.
Dit is veeleisend om op die hoogte van die jongste ontwikkelinge in al hierdie velde te bly. Dit is juis hierdie leemte wat die LRF raakgesien het, en wat tot die besluit gelei het om die geleentheid in Bloemfontein uit te brei en na Aldam te verskuif, waar dit sedertdien aangebied word.
Deur die jare is gekonsentreer op verskillende aspekte van veeboerdery, soos voerdoeltreffendheid, karkasgehalte, weidingsbestuur, reproduksie, dieregesondheid en genomika, waarvoor die beste deskundiges met die hand uitgesoek word om hul kennis aan boere te kom oordra. Lesings word met praktiese aanbiedinge aangevul.