
Vooraanstaande, internasionale en plaaslike sprekers word elke jaar genooi om hul kennis op die LRF-Veeskool oor te dra. Baie deelnemers het oor die jare aangedui dat hulle waardevolle idees huis toe gevat het om onder hul omstandighede toe te pas.
As produsente op die voorpunt van ontwikkeling in die veebedryf wil bly, bied die Veeskool beslis die geleentheid.
Wingewende koeikudde
Vanjaar se tema is “Hoe om ’n winsgewende koeikudde te bou”. Die koeikudde is elke beesboer se “fabriek” en moet so winsgewend moontlik en met die minste moontlike onderhoudsbehoeftes bestuur word.
Op die eerste dag konsentreer die Veeskool op basiese beginsels van suksesvolle veeboerdery as geheel, en dra ook basiese, praktiese bestuursaspekte oor. Deelnemers kan net vir die eerste dag registreer of vir al drie dae.
Die program is op bl. 62. Aldam bied verblyfs- en ander geriewe vir skakeling tussen produsente, sprekers, deskundiges, insetverskaffers, wetenskaplikes en owerheidsverteenwoordigers aan. Hierdie netwerkgeleentheid en uitruil van gedagtes is een van die belangrikste aspekte om sukses te bevorder.
Michael Brandfield
Dit is die eerste jaar dat die Veeskool sonder die staatmaker en innoveerder dr. Michael Bradfield plaasvind. Hy is vroeër vanjaar aan kanker oorlede. Bradfield het ’n reuse-bydrae tot die bevordering van die veebedryf in Suider-Afrika gelewer en was die persoon agter die ontstaan van die Veeskool.
Hy het toekomsvisie gehad, was ’n motiveerder, het die gawe gehad om mense om hom te inspireer en het die veebedryf na nuwe hoogtes gelei. Die LRF het die verantwoordelikheid aanvaar om op sy nalatenskap voort te bou.
Bradfield het internasionale erkenning vir sy bydrae tot die bevordering van die veebedryf gekry. Hy het ook Wêreldbank-projekte in Ethiopië, Soedan, Pakistan en ander lande behartig.
Die Australiese navorsingsinstituut Agricultural Business Research Institute (ABRI) wat die Breedplan-stelsel ontwikkel het, het ’n spesiale beurs vir nagraadse studente, The Michael J. Bradfield Memorial Scholarship, aan hom toegewy en beskikbaar gestel vir navorsing in teelmateriaal.
Suider-Afrika vat hande
Die beesbedryf in Suider-Afrika werk saam sodat boere inligting oor die jongste metodes in moderne beesboerdery kan bekom. Dit hou hulle op koers in hul strewe na groter winsgewendheid en volhoubaarheid.
Dr. Mario Beffa, bestuurder van die Zimbabwe Herd Book, sê die organisasie het Breedplan in 2010 onder leiding van Bradfield as die diensverskaffer van al sy telersgenootskappe aanvaar. Danksy hierdie verhouding met Bradfield het talle Zimbabwiërs in 2010 en 2011 die Veeskool bygewoon.
Daarna het ’n Zimbabwiese weergawe, die Zimbabwe Beef School, met Bradfield se steun in 2012 ’n week ná Suid-Afrika se Veeskool plaasgevind. Internasionale, streeks- en plaaslike sprekers het hul kennis aan die boere oorgedra.
Bradfield het dit self verskeie kere bygewoon. Die Zimbabwe Beef School is nou ’n jaarlikse instelling en is in 2020 aanlyn saam met die Veeskool gehou. Die staatmaker-borge van die Veeskool, asook nuwe borge, het weer hul toewyding bewys deur dit finansieel te dra.
Só lewer hulle ’n belangrike bydrae om veeboerdery-inligting aan die boerderysektor oor te dra. Ons dank ook aan Landbouweekblad wat as mediaborg dien.
Kontak me. Charmainé Alberts oor die kostestruktuur en besprekingsprosedure by 082 922 3747 of palberts@telkomsa.net.
Mnr. Mecki Schneider is voorsitter van die LRF