
Die Aldam-vleisbeesskool het ongetwyfeld die beste geleentheid van sy soort vir veeboere in die wêreld geword, sê dr. Michael Bradfield, organiseerder van dié geleentheid wat van 12 tot 14 Oktober by die Allemanskraaldam in die Vrystaat gehou word.
Die skool word deur die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) en Landbouweekblad aangebied.
Michael sê internasionale veekundige deskundiges van Amerika, Australië, Kanada en Brittanje wat by die vorige vleisbeesskole opgetree het, is dit eens dat hierdie leerskool nie sy gelyke het nie. Groot- en kleinveeprodusente van Suider-Afrika stem duidelik saam, wat spreek uit die feit dat vanjaar se skool reeds ’n maand voor die tyd volbespreek was.
Ongeveer 250 mense gaan die skool volgende week bywoon; die meeste ál drie dae of as dagbesoekers. “Dit het duidelik ’n moet-bywoon-geleentheid geword,” sê Michael. Dertig van die beste internasionale en plaaslike veekundiges en ander deskundiges lewer vanjaar lesings.
Die kollig val op die noodsaaklikheid om aan die verbruiker se verwagtinge te voldoen wat vleisgehalte (sagtheid, smaaklikheid en sappigheid) betref, asook oor die skep van ’n nuwe visie vir 2020 en daarna.
Hy sê die organiseerders het reeds vir volgende jaar se Vleisbeesskool begin beplan. Die nuwe tema sal eersdaags bekend gemaak word. Omdat so baie mense dit vanjaar gaan bywoon en boere steeds navraag doen al is die skool reeds volbespreek, word planne beraam om vorentoe méér mense te kan akkommodeer.