Handelaars en tradisionele geneeshere doen nog flink sake met veral leeukloue, maar die aanbod daarvan daal skynbaar. Bewaringsbewustes is bekommerd dat wild, soos luiperds, jagluiperds en buffels, slange en selfs sekere soorte skaars plante as plaasvervanger-moetie gebruik kan word.
Dit kan ernstige gevolge vir die land se biodiversiteit inhou, reken dr. Peter Coals van die Universiteit van die Witwatersrand en kollegas van die universiteite van Kaapstad en Stellenbosch, in ’n artikel in die vaktydskrif Animals oor hedendaagse kulturele handelspraktyke in leeuliggaamsdele.
Dié word in Afrika tradisioneel simbolies gebruik vanweë die dier se status, die rol van groot katte in die natuur en eienskappe soos krag en geduld wat aan hulle toegeskryf word. In Suider-Afrika word die leeu veral geassosieer met die umndawu-gees van die voorvader.