Miskien is dit omdat die geweer self al ’n ou man is, of dalk het omstandighede, soos covid-19, maar net daartoe bygedra. Ek het die 6.5 Portugese Mauser byna ’n jaar lank besit voordat ek ’n paar skote geskiet het.
Die oorspronklike ammunisie is so skaars soos hoendertande, wat my genoop het om net ’n paar skote te skiet. Ek het die kosbare doppies gehou en beoog om dit te herlaai, maar verskeie probleme het opgeduik, soos hoe om die Berdan-slagdoppies te verwyder en waar om matryse te kry vir die herlaai.
Nadat ’n artikel hieroor in Landbouweekblad verskyn het (“Op die skietbaan met die 6.5 Mauser”, 27 Mei 2021) het twee barmhartige Samaritane tot my redding gekom. Stoney Steenekamp, geoloog van Rustenburg, en Lionel Frank, prokureur van Malmesbury, het my dadelik gekontak en hulp aangebied.