
Me. Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en die omgewing, sê die doel van die strategie is om ’n formele, florerende en getransformeerde wildsvleisbedryf in Suid-Afrika te skep wat bydra tot voedselsekerheid en maatskaplik-ekonomiese groei.
Dit sal behaal word deur investering vir die bedryf te lok en plaaslike, streeks- en internasionale bemarkingsgeleenthede te vestig.
Creecy sê die wildsvleisbedryf, tans hoofsaaklik ’n neweproduk van jag, is hoofsaaklik informeel en gefragmenteer. Dit is ook grootlik ongetransformeer en min voorheen benadeelde individue is deel daarvan.
“Daar is groot areas kommunale grond wat geskik is vir vlaktewild en ’n geleentheid bied vir gemeenskapsgebaseerde ondernemings om landelike maatskaplik-ekonomiese groei te bevorder. Daar is egter ook hindernisse om tot die bedryf toe te tree wat uit die weg geruim moet word.”
Creecy sê daar is ’n behoefte om te verseker dat die potensiaal wat wildsvleis bied, ingespan word om werksgeleenthede en rykdom, asook klimaatsvriendelike vleisgebaseerde voedselsekerheid te skep.
“Wildsvleisondernemings, wat ander aktiwiteite verwant aan die biodiversiteit ekonomie aanvul, moet kommersieel en maatskaplik lewensvatbaar, asook ekologies volhoubaar wees. Die strategie het ten doel om dit te behaal.”
Van die strategiese uitkomste wat in die strategie vervat word, is om die wildsvleisbedryf te formaliseer tot kommersiële ondernemings wat konsentreer op die produksie van wildsvleis en die verwante waardeketting, asook die hersamestelling van die bedryf se model om skaalekonomie aan te moedig wat noodsaaklik is vir die bedryf se volhoubare groei.
“Kommersiële oes- en verwerkingsondernemings sal waarde tot die bedryf toevoeg deur groter produksiestelsels wat deurlopend in verbruikers se vraag kan voorsien. Wydverspreide en aanhoudende bemarking van wildsvleis sal vraag daarna bevorder, wat weer volhoubare groei in produksie en verwerking sal aandryf.
“Die is belangrik om uit te lig dat die strategie ten doel het om betekenisvolle eienaarskap van kommersiële, vleisgebaseerde ondernemings deur voorheen benadeelde individue te bewerkstellig en kommunale grond te hergebruik vir grootskaalse kommersiële wildsvleisproduksie.”
Creecy sê die strategie gee erkenning aan huidige wildsbesighede en verskeie organisasies verwant aan die wildbedryf se aansienlike bydrae. “Om die strategie vorentoe te neem, sal hul ondervinding en kennis ingespan moet word. Die private sektor sal nuwe beleggings moet maak. Betekenisvolle vennootskappe en samewerking sal noodsaaklik wees.
“Die departement sal voortgaan om in gesprek te tree met huidige en potensiële deelnemers in die bedryf, onder meer die Wildlife-forum, om voort te bou op die gesamentlike energie waarmee die konsepstrategie geskep is om momentum vir suksesvolle toepassing te bewerkstellig.
“Die behoefte om nuwe waarde en geleenthede te skep, nuwe groei te skep en nuwe doeltreffendhede te lewer, is alles belangrik vir transformasie en sal verandering regdeur die wildsvleis-waardeketting noodsaak.”
Die konsepstrategie sal in die tweede kwartaal van die 2022-’23-boekjaar vir openbare kommentaar gepubliseer word.