
’n Finale hofuitspraak word binne die volgende twee weke verwag nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof ’n dringende tussentydse interdik toegestaan het aan Humane Society International – Africa, wat die departement van bosbou, visserye en die omgewing se aankondiging van vanjaar se jagkwotas vir beskermde spesies opskort.
Me. Barbara Creecy, minister van dié departement, moet nou haar rekord van besluitneming openbaar waarvolgens die kwota saamgestel is wat aandui dat 10 kwesbare luiperde, 150 bedreigde olifante en 10 krities bedreigde swartrenosters vanjaar gejag mag word.
Wildbedryf SA (WRSA) sê luidens ’n verklaring na aanleiding van die hofuitspraak dat hy volstaan by die wetenskaplike beginsel dat spesies nie net volgens hul spesies nie, maar ook volgens hul bevolkingsgrootte bestuur moet word.
“Wat bedreigde spesies betref, is dit moontlik dat terwyl die spesies op groot skaal reg oor Afrika se onbeskermde gebiede as bedreig beskou word, daar ook danksy voldoende en goed bestuurde private, beskermde gebiede gesonde bevolkings met voldoende getalle van die spesies. Die spesies waarna in die kwota verwys word, is nie in gevaar van uitsterwing nie ongeag van hoe hul getalle in onbeskermde gebiede afgeneem het.”
WRSA is ook van mening dat waar mense swaar belê het en moeite gedoen het om enige spesies te beskerm en te laat aanteel, is daar geen geldige rede om in te meng by hul oes nie – veral nie as dit op ’n volhoubare wyse gedoen word nie.
Volgens WRSA se regspan het Creecy ’n sterk verweer teen Humane Sociaty International – Africa se aansoek gehad en was dit dus nie nodig vir WRSA om verdere argumente by te voeg nie.
Die jagkwotas, wat vir uitvoer bedoel is, word volgens WRSA gegrond op wetenskaplike beginsels wat in ooreenstemming is met die konvensie vir handel in diereprodukte (Cites), asook die bepalings van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuurswet: Biodiversiteit (Wet 10 van 2004).
Suid-Afrika is een van die min lande met ’n volhoubare bevolking olifante, swartrenosters en luiperds. Volgens WRSA is dit in ooreenstemming met die beste beskikbare wetenskaplike inligting oor hul beskermingstatus en verseker dit dat die jag van hierdie diere nie ’n ongunstige impak op hul bevolkingsgetalle in die natuur het nie.
“Suid-Afrika steun die beginsels van verantwoordelikheid en volhoubaarheid wat die benutting van natuurlike hulpbronne betref. Navorsing het bevind dat trofeejag ekonomiese aansporings skep wat bewaring bevorder. Trofeejag is ook ’n nuttige bestuursinstrument vir wild en word ingespan om (meestal) botallige mannetjies uit die bevolking te verwyder, terwyl die inkomste wat dit genereer, gebruik word om die koste van bewaringspogings te dek.”
Volgens WRSA moet in ag geneem word dat trofeejag streng gereguleer word in Suid-Afrika op internasionale, nasionale en provinsiale vlak.
“Die jagbedryf het in 2019 R1,4 miljard tot die ekonomie bygedra, uitsluitend die ekonomiese bydrae tot toerisme en alle jag- en safari-verwante bedrywe, en die biodiversiteitsektor het in 2019 meer as 418 000 mense in diens geneem, wat vergelykbaar is met die mynsektor. Die inkomste wat deur trofeejag gelewer word, is veral belangrik vir gemarginaliseerde en arm landelike gemeenskappe.”