In sy boek African Rifles and Cartridges maak John “Pondoro” Taylor ’n stelling waarmee min geweerliefhebbers sal stry. Hy skryf: “.375 MAGNUM HOLLAND & HOLLAND. Undoubtedly one of the deadliest weapons in existence. It heads the list from the point of view of its caliber, and in the opinion of many hunters ought to easily head it from the point of view of its power also.”
Hy vertel dan dat hy vyf gewere in hierdie kaliber besit het en met een van hulle 100 olifante, 411 buffels en ’n verskeidenheid renosters, leeus en ander wild geskiet het en tevrede was met die resultate.
Hy het die kaliber as ’n groot-medium beskryf en wetende dat hy eintlik ’n voorliefde vir die werklike groot kalibers gehad het, is sy lofsang vir die .375 H & H ’n bewys van hoe hoog hy dit aangeslaan het.