Onlangs luister ek op ’n Sondagaand na RSG se operaprogram en krap sommer terselfdertyd in my boekrakke rond, waar ek toe afkom op 2014-’15 se pragtige Jag & Sport-katalogus wat Gottfried Eder van die Waffen-Ecke in Loferen, Oostenryk, een jaar vir my gegee het.
Ek het begin blaai in hierdie pragtige boek met die subtitel “Jagen ist Leben”. Met só ’n siening kan ek heelhartig saamgaan: Jag is voorwaar lewe. Die katalogus laat ’n mens se mond water met al die pragtige gewere, messe, handwapens, teleskope en toebehore.
Ja, die hele 419 bladsye daarvan. Daar is ook bykans 100 bladsye oor jagklere en -skoene en -stewels. Die geblaai deur die boek het my breinselle so ’n bietjie op aandag laat staan en ek onthou skielik van ’n ander katalogus: Frankonia Jagd van 1987-’88. Dit moet ook iewers tussen my stapels boeke wees.