
’n Trop van 11 olifante wat hul opwagting in die Hectorspruit-omgewing, suid van die Krugerwildtuin gemaak het, het plaaslike gemeenskappe, bewaringsinstellings van Suid-Afrika en Mosambiek, en selfs boere op die punt van hul stoele.
Tot dusver het die olifante nog geen landbouskade aangerig nie. Hulle het ook nie infrastruktuur of eiendom van die gemeenskappe in daardie omgewing beskadig nie.
Me. Kholafelo Nkambule, woordvoerder van Mpumalanga se toerisme-en-parke-agentskap (MTPA), sê dis nie seker presies waar die olifante die grens oorgesteek het nie, maar die vermoede is dat hulle eers van Mosambiek na Eswatini getrek en daarna die grens na Suid-Afrika oorgesteek het.
“Ons het ’n span kundiges wat saam met die olifante beweeg en hul gedrag en bewegings noukeurig monitor. Die idee is om hulle saam met ’n span van die Mosambiekse bewaringsdepartement geleidelik terug te jaag na Mosambiek.”
Nkambule sê tot dusver het die olifante hulle baie goed gedra. Die enigste probleem wat die departement die hoof moes bied, was ’n ontstoke gemeenskap wat nie wou hê die olifante moes deur hul gebied trek nie. “Ons het dit vreedsaam opgelos. Die olifante is nog in die Hectorspruit-omgewing en hopelik besig om onder begeleiding van personeel van MTPA en bewaringspersoneel van Mosambiek aan te stap na hul land van herkoms.”