
Volgens die departement van bosbou, visserye en omgewing is 259 Suid-Afrikaanse renosters in die eerste ses maande van 2022 vir hul horings gestroop. Dit is tien meer as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Luidens ’n verklaring sê die departement van alle renosters wat tot dusver vanjaar gestroop is, was 210 op staatseiendom en 49 in private besit. KwaZulu-Natal is die hardste getref met 133 renosters wat in die eerste ses maande van 2022 daar doodgemaak is, terwyl 82 renosters in die Krugerwildtuin gestroop is. In die eerste ses maande van vanjaar is vier maal meer renosters in KwaZulu-Natal afgemaai as die 33 renosters wat in die eerste helfte van verlede jaar in die provinsie gestroop is.
Me. Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, sê verskuiwing van die renosterstropers se teiken-areas maak dit belangriker vir die nasionale regering om sy klem te verskuif na die ondersteuning van provinsiale owerhede en private reservate in die oorlog teen renosterstropery.
Volgens www.savetherhino.org is daar tans wêreldwyd van 17 212 tot 18 915 witrenosters, van 5 366 tot 5 627 swartrenosters, ongeveer 3 588 groter eenhoringrenosters, minder as 80 renosters in Sumatra en ongeveer 75 renosters in Java. Suid-Afrika is een van die laaste vestings van wit- en swartrenosterbevolkings, maar selfs hierdie bevolkings word ernstig bedreig.
Mnr. Pelham Jones, voorsitter van die private renoster-eienaarsvereniging van Suid-Afrika (PROA), sê daar is ’n merkbare toename in voorvalle en ander bedrywighede deur renosterstropers op private eiendom. Hhoewel PROA se lede ongeveer 25% van alle renosters wat landwyd gestroop is, gedurende 2021 verloor het, kon hierdie lede se pogings vir die eerste helfte van 2022 tot dusver hul relatiewe verliese tot ongeveer 20% verminder.
Teenoor die veel groter getalle renosters wat op staatsbestuurde reservate gestroop is, skryf Jones hierdie relatief klein verliese toe aan die pogings wat PROA-lede onderneem ten opsigte van die beveiliging van hul bestaande renosterbevolkings en om hierdie renosters se voortplanting optimaal te bestuur om bevolkings te laat groei.
R180 000 per jaar per dier
Hy sê dit kos ’n private renostereienaar gemiddeld sowat R180 000 per dier per jaar aan beskermingskoste. Dié eienaars dra hierdie koste en behaal renosterbewaringsukses met min tot geen bystand van die staat.
“Tragies genoeg gee die minister weereens geen erkenning aan die ongelooflike rol van die private sektor. Die private sektor besit nou sowat 60% van die nasionale kudde van beide swart- en witrenosters saam. Ten spyte van al die miljoene en miljoene rande en groot hulpbronne wat tot die staat vir bewaring beskikbaar stel, ervaar sommige van hulle afnames van hul renosterbevolkings. Tog is daar ’n wesenlike bevolkingstoename op private renosterreservate,” sê Jones.
Hy het die PROA se jare lange oproep aan die Suid-Afrikaanse regering herhaal om sorgvuldig gemonitorde verkope van die land se beduidende voorraad renosterhorings te wettig. Die vraag na renosterhoring wat renosterstropery aandryf, bly “konstant en onversadigbaar”. Die voortdurende verbod op wettige handel in renosterhoring het nie gewerk om die gety te keer nie.
“Soos die regering se drastiese besluit om die gebruik van dagga te kommersialiseer, is daar groot potensiële ekonomiese opbrengs wat ’n wettige handel in renosterhoring kan genereer vir bewaring, landelike gemeenskappe, werkskepping, transformasie en vele ander aspekte. Die regering se uiters vernietigende strategie veroorsaak die dood van nie net renosters nie, maar ook van teenstropingspersoneel en van stropers,” beklemtoon Jones.
Hy verduidelik dat die dood van renosterstropers aansienlike negatiewe maatskaplik-ekonomiese impak op hul gesinne het. As die handel in renosterhoring gewettig word, kan hierdie stropers wettiglik die maatskaplike-ekonomiese voordele daarvan deel pleks daarvan om ’n bedreiging vir teenstropingspersoneel te wees en hul eie lewens in gevaar te stel. Miljarde rande kan in die Suid-Afrikaanse ekonomie ingebring word.