
Die mans, onderskeidelik 56 en 60 jaar oud, word aangekla van korrupsie, geldwassery en bedrog wat verband hou met die handel in verbode wildprodukte.
Luidens ’n verklaring van die Valke het sy eenheid vir die ondersoek van ernstige korrupsie in Mpumalanga met die samewerking van die SA Polisiediens se veediefstal- en bedreigdespesies-eenheid by Skukuza die mans in hegtenis geneem.
Die verklaring lui dat die inhegtenisnemings volg op ’n omvattende ondersoek van onder meer die verdagtes se geldsake. Na bewering het die verdagtes groot bedrae geld aanvaar om taktiese inligting aan renosterstropers te verskaf. Verdere inhegtenisnemings is moontlik.
Mnr. Gareth Coleman, hoofbestuurder van die Krugerwildtuin, sê luidens ’n verklaring van die Suid-Afrikaanse Parkeraad dat hy en sy span trots is op die spanwerk en toewyding van die wildtuin se veldwagterskorps en op die vele ander wat dikwels in uiters moeilike toestande werk om die wildtuin se wild teen misdadigers te beskerm.
“Dit is jammer dat van ons werknemers na bewering gekies het om by onwettige aktiwiteite betrokke te raak. Dit het verreikende gevolge vir hulself, hul gesinne en hul eie gemeenskappe. Slegs deur dissipline, eerlikheid en spanwerk gekombineer met die begeerte om die mense van Suid-Afrika onbaatsugtig te dien, sal ons die gety van renosterstropery in die Krugerwildtuin kan stuit.”
Volgens die departement van bosbou, visserye en omgewingsake is 451 renosters verlede jaar landwyd gestroop. Altesaam 209 hiervan was in die Krugerwildtuin.
Die Valke doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat verband hou met renosterstropery in die Krugerwildtuin, om die ondersoekbeampte, kol. Danie Hall, by 071 481 3281 te kontak.