Die eiesoortige teelmateriaal van die kwesbare bergsebra is op die spel. Só is reeds in 2017 in ’n bestuursplan vir dié spesie gereken. Daarna is die provinsiale bewaringsorganisasie CapeNature aangestel om dit in die Wes-Kaap toe te pas.
CapeNature het die kwessie aangeroer in ’n pamflet aan wildboere en ander grondeienaars. Oorspronklik was Kaapse bergkwaggas (Equus zebra zebra) die enigste soort sebra wat natuurlik in die Wes-Kaap voorgekom het.
Weldra het private grondeienaars ook Hartmann se sebra (Equus zebra hartmannae) en die bontkwagga (Equus quagga burchelli) na die provinsie gebring. Sommige diere het sedertdien uit aanhouding ontsnap, en beweeg nou vrylik rond – wat die kans op verbastering vergroot.