Meer as 70% van Europa en Brittanje se inwoners wat aan ’n meningsopname oor die wenslikheid van trofeejag deelgeneem het, is glo daarteen gekant. Só berig die internasionale toerismewebwerf Daily Tourism Update oor ’n onlangse navorsingsverslag van die diereregte-organisasie World Animal Protection (WAP).
Daar het volgens WAP 10 900 mense van reg oor die wêreld aan die navorsingsopname deelgeneem, waarvan baie gereelde besoekers aan Suid- en Suider-Afrika is. Suid-Afrikaanse deelnemers is blykbaar ook by die navorsing betrek.
Meer as 80% van die deelnemers het gemeen die Suid-Afrikaanse regering moet eerder voorkeur gee aan wildvriendelike ekotoerisme as trofeejag, met die meerderheid van hierdie sienings wat in Europa en Brittanje gehuldig word.