
’n Dragtige renosterkoei is een van die vier renosters wat Woensdagaand (8 Desember) op die private wildsreservaat Inverdoorn in die Wes-Kaap deur stropers geskiet is.
Lede van die anti-stropingseenheid het omstreeks 22:30 aangemeld dat hulle op die renosters afgekom het. Twee was reeds dood en die ander twee het later gevrek. ’n Vyfde renoster was vermis. Grootkaliberammunisie is op die toneel gevind. Patrollies op die reservaat is opgeskerp om almal teenwoordig teen die vermoedelik swaar gewapende stropers te beskerm.
Lede van die eenheid het spore begin volg op die reservaat van 10 000 ha, terwyl die reservaat se bestuur, bewaringspanne, wildveeartse en wetstoepassers na die toneel ontbied is.
Die vermiste renoster is teen 02:00 lewend opgespoor met ’n skietwond in haar gesig. ’n Operasie om haar gesig te herbou word nou as ’n prioriteitsaak oorweeg.
Mnr. Searl Derman, eienaar van Aquila Collection waarvan Inverdoorn deel uitmaak, sê dit is vir hom verskriklik om ná ’n vorige voorval van stroping in die private wildsreservaat Aquila weer so ’n nagmerrie te moet herleef.
Hy sê alles sal in die stryd gewerp word om die skuldiges op te spoor en te verseker dat reg en geregtigheid geskied. “Ons bied ’n beloning van R100 000 vir enige vertroulike inligting wat sal lei tot die suksesvolle vervolging van die misdadigers wat soveel hartseer en verlies vir die personeel en bestuur van die reservaat veroorsaak het.”
Dié voorval kon volgens hom nie op ’n slegter tyd gekom het nie aangesien die toerismebedryf en private wildreservate in Suid-Afrika reeds gewurg word deur voortgesette, onregverdige internasionale reisverbiedinge wat reeds daartoe gelei het dat baie reservate hul deure moes sluit, wild uitskot en personeel verminder om te midde van die pandemie kop bo water te hou.
“Daar is nie net ’n maatskaplike koste verbonde aan dié pandemie nie. Wilde diere is die onwetende deelnemers en slagoffers van die pandemie.”
Hoewel Aquila Collection nie die onthoorning van renosters aanmoedig nie, het Inverdoorn reeds sy renosters onthoring en hul horings met sintetiese horings vervang om die risiko van stroping te verminder. Dit het egter nie die stropers ontmoedig nie aangesien een van die gestroopte renosters se horings reeds met ’n horing van veselglas vervang was.