Ek het onlangs die voorreg gehad om tydens ’n skoolreünie op my geboortedorp, Prieska, te kuier. Ek ry bykans elke jaar daar verby op pad Namibië toe, maar kan nie onthou wanneer laas die veld so pragtig was nie.
Van Prieska af het ek en my vrou die pad gevat deur Vosburg en Carnarvon tot by ’n vriendin op Williston waar ek by ’n restaurant die lekkerste skaapnek nóg geëet het. Van daar af om sterre te kyk by Sutherland en toe deur die Seweweekspoort na Calitzdorp om die wintervoorraad by hul kelders aan te vul.
Ons geniet sulke ritte altyd baie. Een van ons grootste vreugdes is om te kyk hoeveel wild ons sommer van die pad af kan sien. Vreemd genoeg het ons hierdie jaar baie min gesien. Naby Jansenville ’n waterbok en verder so hier en daar troppies springbokke.