
’n Mens kan maklik die fout maak om te dink jy kyk na ’n veilingverslag van vyf of ses jaar gelede as jy na die onlangse Woody Cape Wildlife-veiling op die Bathurst-skou kyk. Met ’n omset van R17,7 miljoen vir 103 lotte was hierdie Oos-Kaapse wildveiling ’n dawerende sukses, sê die afslaer, mnr. Brandon Leer. “Ten opsigte van omset het dit ons almal se verwagtinge oortref.”
Die groot verrassing was die prys van R4 miljoen vir die buffelbul Sidima met ’n horingwydte van 53 3/8 duim. Leer sê verskeie belanghebbendes in die wildbedryf het vooraf gefluister het dat Sidima – ondanks sy wye stel horings – op die Safari Club International- (SCI) puntelys minder punte verdien as buffels met horings van meer as 50 duim vanweë sy smaller horingbasisse.
Anders as die Rowland Ward-trofeemeetstelsel waar die wydte van buffels se horings die trofeewaarde bepaal, meet SCI ook die basisse en die horing van punt tot punt om ’n totale trofeepunt te bereken. Vir baie jagters het SCI die norm vir trofeemeting geword omdat hulle voel dit bied ’n beter geheelbeeld van ’n trofee se gehalte as om net lengte of wydte te meet. Suid-Afrika se wildbedryf selekteer al hoe meer vir hierdie eienskappe.
Goeie gene
Mnr. Warrick Barnard, Woody Cape se eienaar en Sidima se verkoper, het verder gegaan as om net die bul self se horings te meet: Hy het ook sy seuns en dogters verdoof en hul horings volgens SCI-trofeekriteria gemeet. Dit het aan die lig gekom dat Sidima se nageslag horings en horingmassas dra wat hul eweknieë met tot 2 duim oortref. Sidima gaan dalk nie self in die rekordboeke kom nie, maar die vereistes vir rekordbuffeltrofeë lê beslis in sy gene. Sy prys dui dus op ’n sterk vraag na goeie teelmateriaal wat weer ontstaan.
Sidima was nie die enigste dier wat ’n baie goeie prys behaal het nie. ’n Blouwildebeesbul met ’n horingwydte van 33 2/8 duim is teen R250 000 verkoop en ’n buffelkoei wat dragtig is van Sidima, het R660 000 behaal. Sy is ’n dogter van die bekende bul Horison met 55 6/8 duim-horings.
Nog ’n Horison-dogter, dragtig van Zeus met 51 duim-horings, het teen R750 000 verkoop. Drego, ’n buffelbul met horings van meer as 50 duim, het R980 000 behaal en Chapman, ’n swartwitpensbul met horings van 50 duim, het R550 000 behaal. Chapman is ’n seun van Charlie, wat horings van 51 duim het.
Vlaktewild van trofeegehalte het deur die bank goeie pryse verdien en familiegroepe is duidelik sterk in aanvraag.
Tekort aan trofeewild
Leer skryf dit toe aan ’n tekort aan trofeewild in die jagveld. Twee jaar van covid-19-inperkings het internasionale jagters verhinder om Suid-Afrika toe te kom. Plaaslike jagondernemers en wildboere het saamgespan en om die pot aan die kook te hou het hulle trofeediere teen laer pryse aan plaaslike jagters beskikbaar gemaak.
Suid-Afrikaanse jagters het nie op hulle laat wag nie en baie trofeewild is tydens die inperkingstyd gejag deur jagters wat gewoonlik net vroulike of jong diere vir vleis jag. Dit het die voorraad uitgeput en nou is daar ’n toeloop van jagters uit die buiteland – veral uit Amerika en Europa – wat uitgehonger is vir Afrika se jagveld. Daar is eenvoudig nie genoeg manlike trofeediere om in die vraag te voorsien nie en dit dryf pryse op.
Leer sê oor die algemeen het wildveilings vanjaar op ’n goeie voet begin en pryse het bestendig verbeter namate die jaar vorder.
Dit is veral vlaktewild en familiegroepe wat goeie pryse verdien want, sê Leer, boere besef daar sal nou ernstig gebou moet word aan hul kuddes om weer genoeg manlike trofeediere te teel.
Vir hom as afslaer is die goeie nuus dat wild oor die algemeen vanjaar beter pryse op direkte veilings behaal waar ’n afslaer in lewende lywe die diere opveil en bieërs in persoon of intyds aanlyn deelneem as op stil aftelveilings, wat as oorbruggingsmaatreël tydens die covid-19-inperkings gebruik is.