Die uitdaging vir Suid-Afrikaanse boere is om volhoubaar en omgewingsvriendelik te boer. "Dit is waar die oplossing in die toekoms gaan lê," sê prof. Mohammed Karaan, dekaan van die fakulteit landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch.
Hy sê dat die geïndustrialiseerde landbou-model wat Suid-Afrika volg is op hoë insette en uitsette gegrond, wat die omgewing ernstig kan versteur en "selfs die samelewing onstabiel kan maak". Hy meen dat dié model ook tot gevolg kan hê dat net die grootste boere oorleef en dat die aantal boere in sy leeftyd van die huidige 40 000 tot so min as 3 000 kan daal.
Hy voeg by dat daar al groot boere is wat intensief aan dié probleem werk, maar dat kleinboere "nie die paal kan haal nie". Karaan waarsku ook dat die landbou internasionaal polities minder belangrik word vanweë die relatief klein bydrae wat dit tot lande se bruto binnelandse produk maak.
"Ek dink ons moet daarmee vir lief neem dat die landbou polities onbelangrik is en dat dit in die toekoms al hoe onbelangriker gaan raak." Hy meen dat die landbousektor op volhoubaarheid toegespits moet wees eerder as om steun van politici te probeer werf.
Bron:
Sake24 (Sake24)
21 April 2009