Die genoteerde landboumaatskappy Afgri meen Wes-Kaapse landbou-ondernemings moet wakker slaap, want hy kan dalk in sy nuwe boekjaar 'n verkryging aankondig.
Met die bekendmaking van die groep se finansiële resultate vir die jaar tot einde Februarie, het mnr. Jeff Wright, besturende direkteur, gesê dit is steeds Afgri se strategie om vanuit sy tradisionele geografiese gebiede uit te brei en nuwe streke te betree.
Afgri se poging om 'n vyandige oorname verlede jaar van Boland Agri het wyd opslae gemaak. Die meerderheid aandeelhouers in Boland Agri het egter daarteen gestem.
Afgri kon in sy boekjaar nie die swak landboutoestande vryspring nie en die maatskappy se voorbelaste wins het met 34 % gedaal tot R214,1 miljoen. Sy netto wins is 28 % laer op R149 miljoen. Sy wesensverdienste per aandeel het 39,3 % gedaal tot 44,5c per aandeel.
Mnr. De Wet Goosen, die finansiële direkteur, sê in die huidige moeilike toestande is dit 'n prestasie. Die skerp dalings in winsgewendheid is hoofsaaklik weens die sterk rand en lae internasionale katoenpryse asook die uitwerking van die sterker geldeenheid wat tot die afskrywing van voorraad gelei het.
Wright sê planne is in werking gestel om Afgri weer op 'n groeipad te plaas. Altesame 13 takke in vier provinsies is reeds gesluit wat sy werksmag met 221 mense verminder het.
Hy sê sover dit versoeke aan die Regering vanuit die primêre sektor aangaan vir groter beskerming, sal Afgri stappe ondersteun wat die winsgewendheid van die boer verseker.
27 Mei 2005