'n Ooreenkoms tussen Afri Compliance en DM Kicsh Ing, ‘n prokureursfirma wat spesialiseer in patente, handelsmerke en kopiereg, is onlangs onderteken. Dit het Afri Compliance as ondersoekers en diensverskaffers ten opsigte van vervalste goedere vir dié onderneming aangestel.
Dié ooreenkoms volg na 'n jarelange verbintenis oor intellektuele eiendomsreg in die landbou en verwante bedrywe tussen mnr. Joe Hanekom, besturende direkteur van Afri Compliance, en mnr. At van Rooy, DM Kicsh-direkteur. Dié samewerking oor intellektuele eiendomsreg het in die aartappel- en saadbedryf begin. In die opvolgende jare is talle suksesse behaal waartydens groot bedrae geld namens benadeelde kliënte van onwettige gebruikers verhaal is.
Volgens die nuwe ooreenkoms sal Afri Compliance voortaan ook ondersoek kan instel na 'n wyer reeks misdrywe wat verband hou met vervalste goedere en intellektuele eiendomsreg. Bekende handelsmerke, sportgoedere, kosmetiese produkte, elektroniese ware en farmaseutiese produkte is van die produkte wat hierby ingesluit word.
29 September 2009