
Goeie nuus! Nou is daar ‘n veldtog wat jou nooi om te wys hoe lyk jou Afrikaans en boonop te wen. Saam met Veldtog Afrikaans is daar ‘n splinternuwe webtuiste, www.afrikaans.com, waar jy Afrikaans kan vier en haar in haar volheid verken. Dit is ‘n plek waar jy sal tuis voel. Afrikaans se horison is so wyd soos elke mens wat in hierdie kontinent geanker is en op afrikaans.com is daar plek vir almal. Jou kultuur, jou dialek, jou variant is jou Afrikaans. Staan nader … kom wys ons hoe lyk jou Afrikaans en gesels saam!
Veldtog Afrikaans het ontstaan uit ‘n gedeelde passie vir Afrikaans wat nou lewe gee aan ‘n opwindende bewusmakingsveldtog wat Afrikaans as handelsmerk sal vestig en bevorder en die taal se beeld op ‘n positiewe wyse sal uitbou.
Kern van inisiatief
Die kern van die inisiatief is ‘n mediaveldtog deur middel van buitelugborde, asook redaksionele en advertensieblootstelling op televisie en radio en in die drukmedia. Die kernboodskap van die advertensieveldtog is: Hoe lyk jóú Afrikaans? Die idee is om mense se belangstelling te prikkel en Afrikaanssprekendes, maar ook alle Suid-Afrikaners, te nooi om Afrikaans in haar volheid te vier en te verken.
Die webtuiste is ontwikkel om blootstelling te gee aan al die projekte waarby die veldtog aansluiting vind.
Afrikaans.com is ‘n wegspringplek vir alles Afrikaans. Dis ‘n plek waar jy jou wortels kan vind, jouself kan uitleef en uitdruk. Ons nooi jou saam op ‘n avontuurtog deur die wye landskap van ‘n taal met ‘n geskiedenis wat lees soos ‘n Deon Meyer-boek, ‘n hede so oproerig en vernuwend soos ‘n NP van Wyk Louw-gedig en ‘n toekoms so opwindend soos die ritme van ‘n Hemelbesemtong. Dis vir dié wat die taal lief het en wat ‘n toekoms vir hierdie hartstaal wil bou of sommer net die glimlag agter elke woord wil geniet en wil saamgesels!
Ambassadeurs vir Afrikaans
Deel van Veldtog Afrikaans is die bekendstelling van ambassadeurs vir Afrikaans - mense wat deur ‘n verskeidenheid van projekte en inisiatiewe ‘n verskil maak. Afrikaans.com hou jou op hoogte en skep ‘n lekker lewendige netwerk waarby jy kan inskakel.
Neem deel
Wat roer jou en wat raak jou? Hoe voel jou Afrikaans? Hoe proe of ruik jou Afrikaans? Hoe klink jou Afrikaans en hoe leef jy Afrikaans? Almal se Afrikaans lyk anders. Ons leef, praat en ervaar Afrikaans verskillend. Op afrikaans.com kan jy self ‘n bietjie kom spog, inspireer of verras – neem deel aan die gesprek en kompetisie en wen of loer sommer net in en kyk hoe ander hulle ding doen in Afrikaans. Hierdie veldtog vra: Hoe lyk jou Afrikaans?
Vanaf 1 Junie 2016 kan medeliefhebbers van Afrikaans dus deel word van ‘n veldtog om saam aan die langtermyn toekoms van Afrikaans te bou. Besoek afrikaans.com en kom gesels saam!