
Die Dutoit Agri-groep op Ceres gaan dié winter die eerste appelbome wat vrugte met rooi en pienk vleis dra, in Suid-Afrika plant.
Dié groep is die Suid-Afrikaanse vennoot en een van die eerste internasionale maatskappye wat by Ifored, ’n internasionale vennootskap vir die kommersialisering van nuwe appelkultivars met rooi en pienk vleis, aangesluit het. Dit word as een van die belangrikste deurbrake in internasionale appelverbouing in dekades beskou.
Dié vennootskap is pas met die toetrede van Nieu-Seelandse en Duitse vennote versterk. Die twee nuwe lede beteken dat Ifored nou die jaarlikse bemarking van meer as 3 miljoen ton appels en die produksie van sowat 55 000 ha appels beheer, sê Dutoit Agri in ’n verklaring.
Die nuwe appels sal dus in die Noordelike én Suidelike Halfrond verbou word en die hele jaar lank beskikbaar wees sodra dit in kommersiële volumes bemark word. Die nuwe kultivars word natuurlik en sonder genetiese manipulering geteel, met die klem op hul aantreklike voorkoms en gesondheidswaarde.
Mnr. Gys du Toit, besturende direkteur van Dutoit Agri, sê die eerste plantmateriaal is klaar in Suid-Afrika beskikbaar en word dié winter op hul plase geplant. Hulle verwag om die eerste vrugte vir evaluasie in 2017 te oes.
Die eerste van die rooivleis-appels was verlede jaar in Europa te koop. Dit word vanjaar na Amerika, Kanada, Brasilië en die Verre-Ooste uitgebrei. Die vrugte wissel van soet tot gebalanseerde, effens pikante geure, met ’n skil wat geel, oranje, pienk en rooi kan wees met ligroos tot dieprooi vleis.
Ifored is in Oktober 2012 in Angers, Frankryk, gestig en bestaan nou uit 14 vennote in 13 lande op 7 vastelande. Ifored wil in 2015 ’n handelsmerk vir dié nuwe kultivars registreer.