
Die feit dat ses uit elke 10 Britse kinders geen idee het waar hul daaglikse vrugte en groente vandaan kom nie, is die inspirasie vir ’n motorfietstoer van Londen tot in Kaapstad. Die Britte Max MacGillivray en Gareth Jones het die Groot Vrugte-avontuur onderneem as ’n manier om die belangrikheid van vars vrugte en groente in die dieet van veral kinders te bemark.
“Vars vrugte en groente is my passie en ek sit my hart en siel in dié bedryf,” sê MacGillivray. Volgens hom is hy vasbeslote om iets te doen om mense in te lig oor waar hul kos vandaan kom. “Ek wil die storie vertel van die wonderlike plekke waar ons vrugte en groente gekweek word, sowel as die mense wat dit kweek. Dan sal jong mense kan verstaan dat dit nie net op winkelrakke verskyn nie.”
Só reis hulle
MacGillivray en Jones het hul ysterperde op 8 November in Londen bestyg. Nadat hulle verskeie plekke in Europa en elders in Afrika aangedoen het, het hulle Suider-Afrika op 11 Januarie bereik. Van die plaaslike bestemmings op die avonturiers se pad was vrugte- en groenteboere naby Tzaneen, Hoedspruit, Nelspruit, Hazyview, Bethlehem, Durban en die Sondagsrivier.
Hulle wil ook Grabouw, Robertson, De Doorns en die Paarl besoek, waarná hulle tydens ’n seremonie deur FruitSA verwelkom sal word.
Ná hul terugkeer na Brittanje beoog hulle om by skole en kolleges aan te doen waar hulle jong mense sal vertel hoe die vars produkte wat daagliks geniet word, van die plaas tot op die bord kom. Intussen samel hulle ook geld in wat ná die reis aan liefdadigheidsorganisasies geskenk sal word.