
Badsberg-kelder swaai vanjaar die “soetes”-septer soos aangekondig tydens die 12de jaarlikse Muskadel SA-toekennings. Die Breederiviervallei se Badsberg 2013 Red Muscadel het die enigste Platinum-toekenning uit 25 inskrywings ontvang.
Badsberg is trots om met Muskadel SA verbind te word. Aangesien Muskadel ’n edel kultivar is, en een van Badsberg se vlagskepe, maak dit hierdie toekenning baie spesiaal,” meen Willie Burger, keldermeester van Badsberg-wynkelder. “Dit is egter die eerste keer dat Badsberg met platinum vereer word en ons glo dat dit ons posisie as topverskaffer van rooi muskadel van gehalte in die mark sal bevestig en versterk.”
Ander presteerders uit die Breederiviervallei is Nuy-wynkelder met twee goue toekennings vir hul 2013 Rooi asook 2013 Wit Muskadel en Bon Courage met 'n goue toekenning vir hul 2013 Rooi Muskadel. Oranjerivier-wynkelder het gebou op sy 2013-prestasie en 'n goue toekenning ingeoes vir 2013 se wit muskadel. KWV het 'n goue toekenning verwerf met ‘n besonderse inskrywing - 'n 1968 Wit Muskadel Jerepigo.
Volgens Henri Swiegers, voorsitter van Muskadel SA was die 2013-oesjaar ’n buitengewone droë oestyd wat gelei het tot hoë suikerinhoud en ryk rosyntjiegeure in die druiwe wat gesorg het vir vol wyne met besonderse muskaatgeure.
Die wyne word blind geproe en volgens ‘n welbeproefde puntestelsel beoordeel. Die uniekheid van die verpakking speel ook 'n rol in die puntetoekenning; dit kan selfs die verskil tussen 'n goue of platinum toekenning beteken. Die wenwyne kan in winkels uitgeken word aan die Muskadel SA-plakker wat op die bottel aangebring word.