
Die bekende Solvita-grondtoets, wat oor baie jare in Amerika ontwikkel en verfyn is, is nou ook in Suid-Afrika beskikbaar.
Dié toets meet die biologiese aktiwiteit in grond aan die hand van die koolstofdioksied-vrystelling. Dit is nie net ’n goeie aanduiding van mikrobiologiese aktiwiteit in grond (dus die grond se biologiese gesondheid) nie, maar ook van organies-gebonde stikstof, fosfate en ander voedingstowwe.
Dié wetenskaplike verwantskappe is oor die jare baie betroubaar gevind, maar die ontledings was tot dusver moeilik en tydsaam. Die Solvita-toetsmetode het nou dié probleem uit die weg geruim, sê mnr. Willie Pretorius van die firma Soil Health Solutions.
Die uitslag kan eenvoudig met die hulp van vyf kleurkaarte geïnterpreteer word – amper soos met ’n lakmoes pH-toets. Dié kaarte wissel van ’n blougrys een vir grond met baie lae biologiese aktiwiteit, soos droë sandgrond met min of geen organiese materiaal, tot ’n geel kaart vir grond met buitengewoon hoë biologiese aktiwiteit.
Die kleurkaart-interpretasies gee goeie aanduidings van grondgesondheid, maar is nog nie 100% akkuraat nie. Daarom vul SHS dit aan met laboratorium-ontledings waarin ‘n kolorimeter gebruik word, om aan die boer ‘n akkurater en vollediger ontleding en interpretasie van sy gronde se CO2-vrystelling te verskaf, sê Pretorius.
Hierby gaan hulle die Solvita-toets eersdaags in kombinasie met die Haney-toets aanbied, wat die belangrike C:N-verhouding bybring, en ‘n baie akkurater bepaling van die organies-gebonde en vry beskikbare anorganiese stikstof gee. Dieselfde inligting sal vir fosfaat en kalium gegee kan word, en met ‘n hoë mate van vertroue in kunsmis-aanbevelings gebruik kan word, sê Pretorius.
Die volledige Haney-toets sal van vroeg in 2015 gedoen kan word, in samewerking met die nuutgestigte Radicle-landbougroep in die Kaap, waar die laboratorium ingerig gaan word, sê hy. Die Radicle-laboratorium sal Solvita se Suider-Afrika-agent wees. Met die kombinasie van die twee toetse sal ’n boer dus byvoorbeeld kan vasstel nie net hoeveel stikstof in sy grond is nie, maar presies hoeveel daarvan vir plant-opname beskikbaar is, wat ’n groot verskil aan sy kunsmisrekening kan maak. Die Solvita toets op sy eie is reeds beskikbaar. Die ontledingkoste is R195 per grondmonster. Kontak Willie Pretorius by (021) 913 2913(021) 913 2913, 083 458 9854083 458 9854 of willie@soilhealthsolutions.com
Gaan kyk op YouTube hoe werk die Solvita-toets, en die Haney-toets.