
Belgiese boere het vandeesweek sowat 6 miljoen liter vars melk in die suide van België op hul lande gestort uit protes teen lae melkpryse. Sowat 300 trekkers het melkhouers deur geploegde lande getrek en die melk gestort.
Die boere sê hulle word nie genoeg vir hul melk betaal om produksie vol te hou nie. Duisende melkboere in die Europese Unie (EU) neem reeds aan ’n staking deel en lewer geen melk aan groot verwerkers nie. Na verwagting sal melktekorte van volgende week af in die EU ondervind word.
“Dit is skandalig om die melk te stort, maar ons het ’n boerderystaking nodig,” sê mnr. Erwin Schoepges, leier van die Belgiese melkboere. EU-melkboere eis dat die prys van melk van tussen 18 en 24 euro-sent tot 40 euro-sent verhoog word om hul produksiekoste te dek, asook strenger produksiekwotas. Hulle voer aan dat regeringshulp nodig is om bankrotskappe te voorkom.
Die EU meen hy betaal reeds €55 miljard (R593 miljard) per jaar om die Europese melkbedryf ’n hupstoot te gee. Die organisasie beoog ook om met kwotas weg te doen.
Kyk hier na ’n videogreep van die storting.
Op die meegaande foto stort honderde trekkers melk in België terwyl 'n groep boere toekyk. Die foto is van Associated Press.
Bron:
17 September 2009