
Die bestaande norme vir die ontwerp van besproeiingstelsels verteenwoordig nie noodwendig met verloop van tyd die goedkoopste kostemodel nie.
Dit verseker nie dat die beste balans tussen die koste van die belegging en die bedryf van die stelsel gehandhaaf word nie, het ’n omvattende ondersoek deur ’n landbou-ekonoom aangetoon.
Me. Marcill Venter van die Universiteit van die Vrystaat sê in ’n artikel in die vaktydskrif Water SA dat ontwerpers wat deur die Suid-Afrikaanse Besproeiingsinstituut (SABI) geakkrediteer is, toegelaat word om besproeiingstelsels te ontwerp wat van só ’n aard is dat die wrywing as ’n persentasie van die pyplyn se lengte nie 1,5% oorskry nie.
Jaag koste opDie implikasie van dié norm is dat pype met smaller deursnitte geïnstalleer word, wat koste opjaag omdat meer kilowatt nodig is om die stelsels te bedryf.
Die uitslag van haar navorsing het gewys die beste (optimale) verhouding tussen wrywing en pypdeursnit is eerder 0,6% (wrywing as persentasie van pyplyn-lengte) vir ’n kleiner spilpunt, en 0,47% vir ’n groter spilpunt.
“Die SABI se ontwerp-norm is dus heelwat hoër as die wrywingpersentasies van optimale pyplyn-deursnitte. Dit behoort verlaag te word om ’n beter balans tussen die koste van die belegging en die bedryfskoste te verseker,” sê Marcill.
Fyn balansSy sê stygende elektrisiteitstariewe benadruk des te meer die belangrikheid van die fyn balans wat gehandhaaf moet word as boere nuwe besproeiingstelsels aankoop. Aan die een kant kan beleggingskoste besnoei word deur pype met smaller deursnitte te koop. Aan die ander kant verhoog die bedryfskoste egter as meer krag nodig is om te vergoed vir die groter wrywingsverlies van smaller pype. Dieproduk van kilowatt en pomp-ure is ’n belangrike bepalende faktor in totale veranderlike elektrisiteitkoste, sê Marcill.
Pomp-ure daal as die besproeiingstelsel se leweringsvermoë verhoog word. Die grad van daling is naastenby dieselfde vir klein én groot spilpuntstelsels. Daar is egter ’n betekenisvolle verskil tussen klein en groot spilpunte wat betref hoeveel meer kilowatt nodig is as die leweringsvermoë verhoog sou word.
In haar berekenings het die kleiner spilpunt 10 kW meer benodig toe die leweringsvermoë verhoog is, en die groter spilpunt 21 kW meer, sê Marcill. “Die omvang van die toename in kilowatt-vereiste vir die groot spilpunt laat die kilowatt-uur verhoog, hoewel die (fisieke) pomp-ure danksy die verhoogde leweringsvermoë minde is.
Om koste laag te hou“Die relatief klein verandering in kilowatt- vereiste wat nodig is om leweringsvermoë op die klein spilpunt te verhoog, laat nie kilowatt-uur betekenisvol saam met die verhoogde leweringsvermoë styg nie.”
Om veranderlike elektrisiteitskoste so lag moontlik te probeer hou, raak die wisselwerking tussen kilowatt-vereiste en besproeiingsbestuur (pomp-ure) dus ál belangriker hoe kleiner die besproeide gebied is, sê Marcill.
Kleiner stelsels se leweringsvermoë moet intensief bestuur word omdat meer besproeiingsure nodig is om opbrengsverliese te verhoed. Die tydsberekening van besproeiing is hier van die uiterste belang omdat dit ’n regstreekse uitwerking op elektrisiteitskoste en oesopbrengs het.
Jou waterbegroting“Die aanname wat talle navorsers en besproeiingstelselontwerpers maak dat alle beskikbare ure buite Eskom se spitstye eers gebruik sal word voor besproeiing in die duurder tye geskied, is nie geldig nie. Jou waterbegroting en die gewas se status bepaal tog die tydskedule en besproeiingshoeveelhede.”
Marcill het vir haar navorsing spesiaal ’n wiskundige programmeringsmodel ontwikkel waarmee maklik bereken kan word watter kombinasie van pyp-deursnit en leweringsvermoë op die duur die kostedoeltreffendste vir ’n bepaalde grootte besproeiingstelsel is.
Dié model bring die wisselwerking tussen verskeie faktore in berekening, soos pypdeursnit, die tydsberekening van besproeiingsessies, en Eskom se tariefskedule vir goedkoper en duurder tydgleuwe.
* Dié artikel is geborg deur GWK. Besoek GWK se webblad by http://www.gwk.co.za/